Onderwysprojekte wat skole dwarsoor die land ondersteun, het hoogty gevier met die oorhandiging van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) se taktoekennings (twee van hulle aan die Wes-Rand) tydens die ATKV se Algemene Jaarvergadering verlede week in Hartenbos.
Te danke aan die ATKV se takke is daar onder andere ‘n skoolsaal gebou en is daar projekte in plek om leerlinge te beloon wat, ten spyte van moeilike omstandighede, nog steeds presteer. Dan is daar ook liedjiekompetisies, projekte om handboeke aan onderwysers te voorsien en gratis ekstra klasse aan leerlinge wat sukkel.
“Takprojekte word binne die fokusareas taal, kunste, gemeenskappe en onderwys aangepak. Tot op hede was daar min projekte wat op onderwys fokus. Ons gebruik nou egter suksesvolle, repliseerbare onderwysprojekte en moedig ander takke aan om dit by hul skole aan te pak,” het die Takbestuurder van die ATKV, Dirkie Victor gesê.
“Op die ou end gaan dit hier oor onderwys in elke gemeenskap, nie die naam van die ATKV nie.
“Ons wil, en kan ook nie, die onderwysdepartement se werk doen nie – ons wil bloot leemtes in die stelsel aanvul. Vir ons bly dit egter belangrik om ‘n gesonde balans in projeklewering tussen al vier fokus-areas, binne die gemeenskappe, te handhaaf. My visie is om mense te laat glo in die werklikheid van hul drome en ek glo dat die ATKV dit in elke gemeenskap en by elke individu kan regkry”.
ATKV-voorsitter, Johan van Schoor meen dit is maklik om die regering te blameer vir skuld vir swak onderwys.
“Ofskoon die regering nie sy taak kan abdikeer nie, moet ons hand in eie boesem steek en begin om probleme aan te spreek. Ons mag nie laer trek nie. Afrikaanssprekendes moet gesien word dat hulle ‘n onmisbare bydrae lewer as daar sprake sal wees van ‘n Afrikaanse gemeenskap wat onmisbaar deel is van ‘n suksesvolle Suid-Afrika”.
Hy sê voorts daar kan geen sprake wees van sukses as toekomstige leiers uit ‘n disfunksionele skool kom nie. Die ATKV het onlangs ‘n trust gestig met onderwys as fokus, om veral arm skole se funksionaliteit te verbeter.
Bekroonde projekte aan die Wes-Rand:
• Esperanza (taknaam) – Projek vir Gestremdes: ‘n Groep gestremdes van die Wes-Rand Huis vir Gestremdes is vir vir ‘n week-lange vakansie na Natalia geneem en is vervoer met Kulula.com
• Randfontein (taknaam) – Eisteddfod vir gestremdes: Vyf instellings neem deel – in al die Eisteddfod afdelings.



