“Elke R10 help,” het die stigter van die Cradle of Hope, Melodie van Brakel, by hul jaarlikse damestee gesê.
Saterdag, 25 Mei, het vroue van oral na die Suiderlig-gemeente in Krugersdorp-Wes gekom om die spoggeleentheid ten bate van dié organisasie te ondersteun.

Daar was ‘n gasvrou vir elke tafel wat gesorg het dat hul tafels modern, uniek en feestelik versier en gedek was met die allerlekkerste happies.
Die funksie is aangebied om vir die Cradle of Hope se huis van herstel geld in te samel. Hierdie huis help vroue, mammas en jong meisies wat weens aaklige omstandighede geen ander heenkome het nie.

Melodie het vertel dat die vroue by hul organisasie van reg oor die land kom om hulp te soek. Hulle is dikwels slagoffers van mishandeling en mensehandel.
Die organisasie gee vir die vroue ‘n woonplek en kos, en help om na hul kinders te kyk. Bowenal gee hulle vir die vroue liefde en leiding, en ontwikkel hul vaardighede. Wanneer hulle voel hulle is reg om aan te beweeg, word hulle gehelp om ‘n blyplek en werk te kry.

Dit kos om en by R170 000 per maand om die skuiling aan die gang te hou en die organisasie maak staat op skenkings vir oorlewing.
Gaste by die damestee is deur Burgerd Botha, Henry van Dyk en Nicholis Louw vermaak. Engelie le Roux het klavier gespeel.




