Editor's choiceLocal newsNews

Oom Blackie onthou vir Joost

'Ek glo Suid-Afrika het een van sy beste skrumskakels verloor.'

“My hart is so seer. Ek kan nie glo dat niemand iets kon doen om Joost se siekte te genees nie,” het Blackie Swart gesê.

Dié 83-jarige inwoner van Witpoortjie was vir 35 jaar lid van die Noodhulpliga wat gereeld by die destydse Ellis Park-rugbystadion diens gedoen het. “Ons het noodhulp gedoen by skole-, klub- en Springbok-rugbywedstyde en ook by ander sporttoernooie,” het hy gesê.

Blackie Swart hou die getekende foto van die Springbokspan vas wat aan hom gestuur is. Foto's: Adéle Bloem
Blackie Swart hou die getekende foto van die Springbokspan vas wat aan hom gestuur is. Foto’s: Adéle Bloem

Blackie was deel van die noodhulpgroep wat by die 1995 Wêreldbeker-finaal diens gedoen het en tot vandag toe nog is dit vir hom ‘n ondervinding wat hy nooit sal vergeet nie. “Dit was ‘n besondere eer vir my om deel van die finaal te kon wees. Ons het almal noodhulpuniforms gedra en dit was ‘n fantastiese ondervinding,” het hy met ‘n glimlag gesê.

Hy was nog altyd ‘n groot rugbyondersteuner en baie spelers het ‘n spesiale plekkie in sy hart gehad, maar niemand was vir hom meer spesiaal as Joost van der Westhuizen nie. “Ek was nog altyd ‘n Joost-aanhanger. Hy was altyd vriendelik en het gereeld grappies in die kleedkamer gemaak. Joost was ‘n baie ordentlike man en ‘n ware ster,” het hy gesê.

Hy het vertel hoe net die gedagte aan Joost al die noodhulpvroue se knieë lam gemaak het en hoe hy moes keer om hulle uit die kleedkamers te hou. “Hulle was mal oor hom, veral sy oë. Al die vroue het gedink hy was baie aantreklik en wou hom altyd graag sien. Ek moes hulle gereeld van die kleedkamers af wegjaag,” het hy laggend gesê.

'n Paar van die uitknipsels oor Joost van der Westhuizen wat Blackie bewaar het.
‘n Paar van die uitknipsels oor Joost van der Westhuizen wat Blackie bewaar het.

Blackie het begin om koerantuitknipsels van Joost bymekaar te maak. Sy versameling sluit uitknipsels in van die 1995 Wêreldbeker, die Springbokke en tydskrifmiddelblaaie. Hy het ook Huisgenote versamel waarin die foto’s en artikels van Joost se twee huwelike verskyn het. “Ek het ook ‘n foto van die 1995 Wêreldbekerspan met al hul handtekeninge daarop,” het Blackie trots vertel.

Vir hom was dit asof hy die pad saam met Joost gestap het – van die begin tot die einde van sy rugbyloopbaan, toe hy met MNS gediagnoseer is, en alles tussenin. “Ek het die koerantberigte gevolg van sy diagnose af, en was net so optimisties soos hy oor die Amerikaanse dokter wat hom probeer help het,” het hy gesê.

Joost se afsterwe was vir Blackie baie slegte nuus. “Dit is baie hartseer om te hoor dat iemand wat jy geken het – as persoon en rugbyspeler – oorlede is. Ek glo Suid-Afrika het een van sy beste kapteins en skrumskakels van alle tye verloor. Volgens my was Joost die beste speler in Suid-Afrika, ongeag wat almal gesê het,” het hy afgesluit.

Lees meer oor Joost hier

Joost van der Wethuizen died

Joost van der Westhuizen’s unique legacy

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button