Wees die verandering wat jy in die wêreld wil sien
Annie Kirsten wil graag die gemeenskap betrokke kry by #WasteStopsWithME
“As jy verandering wil sien, moet jy die verandering wees,” het Annie Kirsten, een van die Top 16-finaliste vir Miss Earth SA-kompetisie gesê.
Miss Earth is nie ‘n gewone skoonheidskompetisie nie. Die organiseerders streef daarna om jong vroue met kennis te bemagtig en ‘n platform te skep om ‘n volhoubare verskil te kan maak in die stryd teen die vernietiging van die natuurerfenis. Dit is ook ‘n bewusmakingsveldtog om die bewaring van die omgewing, natuurlewe en Moeder Aarde as ‘n geheel te bevorder.
Annie het vroeër vanjaar haar inskrywing vir Miss Earth SA ingestuur. “Om in te skryf moes ons ‘n portefeulje van die verskillende projekte wat ons al gedoen het, instuur. Ek is die afgelope drie jaar by die Baba Moses Huis betrokke en het 300kg honde- en katkos vir die Dierebeskermingsvereniging (DBV) Roodepoort ingesamel. Ek is ook betrokke by Friends of Rescued Animals (Fora). Ek besoek gereeld ouetehuise in die omgewing en neem vir die inwoners sjokolade net om hulle te laat weet iemand dink aan hulle,” het Annie vertel.
Sy probeer om elke dag haar gunsteling aanhaling van Moeder Theresa uit te leef: “Spread love everywhere you go. Let no-one ever come to you without leaving happier.”
Annie het gekwalifiseer as een van die streeksfinaliste wat by Gold Reef City bymekaar gekom het om aan verskeie werkswinkels en aktiwiteite deel te neem.
Hierdie jaar werk Miss Earth SA saam met Pikitup en die tema is #WasteStopsWithME wat ten doel het om mense te bemagtig om die vullisprobleem te verstaan en die impak wat elke persoon daarop het, uit te lig. Om hierdie tema te ondersteun is die finaliste op ‘n toer deur Johannesburg se sakekern geneem waar hulle onwettige stortingsterreine, informele herwinningsdepots en ander uitdagings wat afval bied, ondervind het. Die kwessie van informele rommelversamelaars, stortingsterreinspasie en waterbesoedeling is ook uitgewys en bespreek.
“Na die voltooiing van die aktiwiteite by Gold Reef City is die Top 16-finaliste gekies, waarvan ek een is,” het Annie gesê.
Voor die kroning van Miss Earth SA moet elke finalis ‘n afvalprojek reël en uitvoer. Annie beplan om ‘n opruimingsprojek saam met die Stad Johannesburg te doen. “Ek wil dit vir ‘n Saterdag vir so twee uur lank reël. Die projek se sukses hang grootliks af van die gemeenskap se betrokkenheid. Dit is nog in die beplanningsfase, maar ek sal die reëlings deurgee sodra alles gefinaliseer is,” het Annie gesê.
Sy is baie betrokke by jong mense en is gereeld deel van bewusmakingsveldtogte by skole om die kinders van herwinning te leer.
Haar boodskap aan die gemeenskap is om betrokke te raak by projekte en sodoende te help om ‘n verandering teweeg te bring. “Elke Miss Earth-finalis wil ‘n verskil probeer maak en het een doel –
om Suid-Afrika ‘n beter plek te maak. Ons kan dit net doen met die hulp van die gemeenskap.”
Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at roodepoortrecord@caxton.co.za (remember to include your contact details) or phone us on 011 955 1130.
For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites Randfontein Herald, Krugersdorp News and Get It Joburg West Magazine
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!



