City Parks reageer op Ghost Town mynsandkwessie
Die mynsandprobleem van Ghost Town kry aandag, volgens Shaun Naidoo van Johannesburg City Parks and Zoos (JCPZ) se departement van kapitaalinfrastruktuurontwikkeling. Die record het na aanleiding van ‘n besoek aan die gemeenskap drie vrae aan die departement gerig naamlik wat JCPZ se plan is met die sandvraagstuk, hoekom so min mense uit die plaaslike gemeenskap …

Die mynsandprobleem van Ghost Town kry aandag, volgens Shaun Naidoo van Johannesburg City Parks and Zoos (JCPZ) se departement van kapitaalinfrastruktuurontwikkeling.
Die record het na aanleiding van ‘n besoek aan die gemeenskap drie vrae aan die departement gerig naamlik wat JCPZ se plan is met die sandvraagstuk, hoekom so min mense uit die plaaslike gemeenskap op die projek aangestel is en of JCPZ die stuk grond na die bouwerk vir die gemeenskap sal skoonmaak aangesien hulle vrees dat dit ‘n teelaarde vir misdaad sal word.
“Ons bou nie ‘n muur rondom die woonstelle nie, maar is besig om die bestaande muur te rehabiliteer sodat dit ‘n skeiding tussen die mynhoop en die woongebied kan bly,” verduidelik Naidoo.
“Daar is twee mure agter die woonstelle – ‘n betonmuur wat as die grensmuur van die eiendom dien, en ‘n keermuur van rooi siersteen wat as die skeiding tussen die eiendom en mynhoop dien. Die twee mure is ongeveer 4m uit mekaar en is opgevul met sand tussen die twee mure sowel as buite die keermuur. Tans lê daar ook baie rommel tussen die twee mure,” sê Naidoo.
“Ons rehabilitasiewerk sal die verwydering van die rommel agter die keermuur, die verwydering van die materiaal wat van die mynhoop af kom, die strukturele herstel van die keermuur en die opvul van die openings aan die begraafplaaskant insluit. Aan die ander kant gaan ons ook die bestaande betonmuur verwyder en die spasie omskep in ‘n funksionele groen area.
“Om altwee die mure te laat bly staan sal wel die potensiaal vir misdaad skep en ons voel die inwoners en plaaslike polisie sal nie die area effektief kan polisieer nie. Ons het egter ons gemeenskapskakelbeampte, Theo Visagie gevra om die gemeenskap se insette oor die verwydering van die betonmuur te kry.
Volgens Naidoo kom ‘n groot aantal van dié wat tans aan die projek werk uit Davidsonville.
“‘n Totaal van 10 arbeiders, wat een vrou en ses jeugdiges insluit, is gedurende die eerste drie maande van die projek gebruik. Die werk wat egter tot dusver gedoen is, is meer masjiengebaseer wat nie met plaaslike arbeid gedoen kon word nie. Ses subkontrakteurs is ook uit die plaaslike gemeenskap aangestel wat R1,9 miljoen beloop,” sê Naidoo. Hy sê ook bo en behalwe die tien arbeiders wat tans gebruik word, gaan nog 60 werksgeleenthede geskep word.
Rakende die vraag of JCPZ die bome vir die gemeenskap sal verwyder het Naidoo die volgende te sê gehad.
“Ons hoofdoel is om die impak van gronderosie en stormwater te verminder en om die stofbesoedeling hok te slaan. Enige plantegroei soos bome en grasgewasse sal dus ‘n beduidende rol speel om hierdie doel te bereik. Die verwydering van die bome sal ongelukkig ‘n negatiewe inpak hê op ons doel,” sê Naidoo.
“Ons het reeds aandag aan ‘n groot hoeveelheid van die gemeenskap se kwessie gegee. Waar ons tekortgeskiet het, het ons deur die gemeenskapskakelbeampte dit aan die gemeenskap gekommunikeer en ons het sover ‘n baie gesonde interaktiewe verhouding met hulle gehad,” sê Naidoo



