
Ek sit en lees nou die artikel in verband met die vergadering wat gehou is vir die mense van Wyk 84, en sien dat Gert Niemand graag meer mense daar sou wou hê wat hul sê kon sê.
Glo my vry, hy kan bly wees dat ons nie opgedaag het nie.
In die verlede het ons soms ook maar met die vorige raadslid gesukkel om hulp te kry, maar sy het darem haar foon beantwoord.
Ek het al verskeie probleme gehad wat ek bitter graag met ons geagte raadslid wou bespreek, en hoewel ek weet dat hy nooit self al die probleme kan oplos nie, het ek regtig gedink hy sal darem net eenkeer navraag doen om te hoor of ons probleem opgelos is. Ek het hom geëpos in verband met probleme met termiete, en die epos is na ‘n derde persoon aangestuur.
Ons is heen en weer tussen die omgewings- en parkeafdeling gestuur, maar dit is steeds ‘n wesenlike probleem. Ek weet nie of een van die departemente ooit regtig iets aan die situasie gedoen het nie, alhoewel Rika van Heerden wel per epos geantwoord het.
Ek het op my foon ‘n boodskap wat ek na die foonnommer gestuur het wat op mnr Niemand se antwoordmasjien gelaat is, maar en ek kan jou wys, die boodskap is nie eers oopgemaak nie.
Dit was reeds in Junie vanjaar.
Ek het darem ‘n T-hemp met die laaste verkiesing gekry, maar betwyfel dit sterk of dit my volgende keer sal beïnvloed.
Die ander problem wat ek ook graag sou wou bespreek, is nooit eers deur die ouens opgevolg nie. Dit is seker maar net ietsie wat ons ouer mense moet aanvaar.
Ek sê maar net!



