MunicipalNews

Frerestraat-inwoners se stryd met kabeldiewe

Inwoners dae lank sonder krag.

Die inwoners van Frerestraat, Discovery, moes die afgelope week erg deurloop onder die handewerk van kabeldiewe. Verskeie inwoners in die straat sit al van Vrydagaand (4 Julie) af om die beurt sonder krag.

Een so ‘n inwoner, Johan de Beer, vertel dat die diefstal nou al so klokslag plaasvind dat hy die diewe verlede Sondagaand (6 Julie) byna op heterdaad betrap het. In die vroeë oggendure het De Beer vanuit sy slaapkamer erge vonke in die donker sien spat. Sy bure het dit ook opgemerk. De Beer het vanuit die huis geskreeu dat hulle weer kabels steel maar terwyl hy eers aantrek het die diewe laat spaander.

De Beer vertel dat dit haas onmoontlik is om die probleem by City Power aan te meld aangesien niemand die fone beantwoord nie – net dieselfde opgeneemde boodskap speel telkens wanneer hy skakel om die probleem te rapporteer. Uit desperaatheid het hy en sy broer toe maar self die probleem by die City Power-kantore in Hamberg gaan aanmeld.

Vroeër vanjaar het die record by ‘n werknemer van City Power verneem dat die personeel wat die inbelsentrum moet beman reeds maande lank staak en daarom word die publiek se oproepe nie geneem nie. Die bewering kan nie gestaaf word nie.

De Beer pak egter nie net die skuld op City Power nie.

“Almal is bewus van die probleem maar jy sien nooit dat ‘n polisievoertuig of die buurtwag hier patrolleer nie, ” sê De Beer.

Dit was ook duidelik dat die diewe die kabels netjies afgesny het, wat die vraag weereens laat ontstaan of die oortreders beter as die gewone man weet hoe om met die gevaarlike toerusting om te gaan. Dit is egter onduidelik hoe die diewe in dié geval die hoë kabels kon bykom.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Roodepoort Record as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button