Het jy dit in jou om ‘n liefdesverhaal uit die boonste rakke te skryf?
Die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV)-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit in samewerking met Lapa en NB Uitgewers en Malan Media bied van Donderdag 5 tot Saterdag 7 September ‘n slypskool in die skryf van liefdesverhale aan.
Hierdie slypskool, van drie dae, op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit is ‘n praktiese slypskool vir enigiemand wat ‘n liefdesverhaal wil skryf. Die inskrywingsgeld daarvoor beloop R2 500 per persoon.
Dié bedrag dek ook deelverblyf in selfsorgeenhede by die PUK Astro Villa, middagetes, oggend- en middagpouseverversings en ‘n onthaal op Vrydagaand 6 September. ‘n Beperkte hoeveelheid verblyfplekke is beskikbaar (skakel vir meer besonderhede).
Voornemende kursusgangers moet ‘n kortverhaal (ongeveer 1 500 woorde) met ‘n romantiese strekking of ‘n eerste hoofstuk (nie meer as 3 000 woorde nie) van ‘n liefdesverhaal voor die sluitingsdatum vir inskrywing op Vrydag 23 Augustus aanstuur na Kobie.VanAswegen@nwu.ac.za.
Bekende skrywers Sophia Kapp, Amelia Strydom, Anna Penzhorn en Magdaleen Walters, asook uitgewers Charlene Hougaard, Hester Carstens en Daleen Malan, tesame met personeel van die ATKV-Skryfskool gaan as aanbieders optree en fokus op die liefdesverhaal.
Wil jy die kursus bywoon? Skakel dan dadelik vir Kobie van Aswegen by 018 299 1783, of per e-pos na Kobie.VanAswegen@nwu.ac.za.



