
Olivetti 45 — Die lewe is ‘n leerskool en in die afgelope week het ek Lien se Lankstaanskoene (2013) gesien asook Lien se realiteit ervaar toe my kollega hom by ‘n nabye kruising ter wille van ‘n sosiale eksperiment as ‘n hawelose en werklose klong voorgedoen het.
Hy het ‘n skamele R90 verdien maar sodra jy sommetjies maak besef jy dat nie hy of Lien té naïef was toe hulle die strate ingevaar het nie. Ek is nou nie heeltemal seker nie maar ek verneem dat Lien se Lankstaanskoene ‘n voorgeskrewe roman vir hoërskoolleerlinge is. Welgedaan, regtig, welgedaan! In ons beroep kry ons min kans om Departemente van watse aard ook al geluk te wens met hul keuses. Waar Roepman (2011) eintlik daardie matriekroman moes wees, dink ek Lien sou inpas by my Graad 9-sussietjie en haar klas. Dis nie ‘n vreeslik gekompliseerde drama nie en die verhaal is nie net toepaslik op tieners wat soortgelyke drama tuis beleef nie, maar ook op dié wat heeltemal té gemaklik leef en nie hul vriende se werklikheid glo of ervaar nie.
Dit was ‘n oulike fliek, en eenvoudig van aard. Ek sou eerder Hoofmeisie (2011) eenkant sit en kleinsus ‘n happie van die harde lewe wil laat proe.
Niks het soveel genot verskaf soos Lien (Carmen Pretorius) se doelgerigtheid en haar tyd op straat nie. Byspelers Roos (Elize Cawood) en Tibbey (Fiks Mahola) laat jou skaterlag met hulle wenke oor bedelary. Ek kon gelukkig hierdie wenke tot my kollega se werklikheid in die naam van joernalistiek bydra. Riaan, moenie jou bordjie té fênsie maak nie, mense gaan dink jy het geld, ensovoorts.
Hoe lief ek ook al vir klassieke romans is, sal ek selde saamstem dat ‘n klassieke roman ‘n hoërskoolleerling se eerste smakie van literatuur moet wees. Lees iets modern. Léés, én kyk, vir Lien in haar lankstaanskoene, en vat vir ouma saam, want sy sal net soveel leer soos jy.



