Die nuwe Graad 8-leerders van Hoërskool Bastion het die gehoor behoorlik vermaak met hul danspassies tydens hul jaarlikse groentjiekonsert.
Die gala-aand, wat op Donderdag, 30 Januarie plaasgevind het, was die hoogtepunt van die week, aangesien dit ook as die inhuldigingseremonie gedien het waartydens die aggies as volwaardige Bastionners ingeburger is.
Die teks vir die konsert, wat die kultuurhoofleiers, Ethan du Preez en Palesa Moabelo geskryf het, het die gehoor saam met die Fromitastics op ‘n avontuur deur hul eerste hoërskooljaar geneem. Elke klas se danspassies is deur die leerderraad uitgewerk, gechoreografeer en ingeoefen. Die matriekitem was ook ‘n groot treffer by die gehoor.
Die hoogtepunt van die aand was definitief toe die skoollied gesing, die kreet uitgevoer en die capping-seremonie gedoen is.
Maar, voordat die aand finaal geëindig het, is spesiale toekennings uitgedeel. Graad 8B het die trofee vir die mees afgeronde uitvoering ontvang, Graad 8A het die trofee vir die mees komplekse bewegings ontvang en Graad 8T is, onder luide toejuiging, as die klas met die meeste gees aangewys.




