Nog ‘n oorwinning vir Florida se Clarece
'Ek het so verlig gevoel toe ek my uitslae gesien het.'
Wanneer matriekleerders hul uitslae in Januarie by die skool kan gaan haal, is dit altyd ‘n spesiale geleentheid, maar vir Clarece Scholtz, 19, was 8 Januarie vanjaar ekstra spesiaal.
Clarece, ‘n oudleerder van Hoërskool Florida, is in haar matriekjaar (2018) met akute limfoblastiese leukemie gediagnoseer; ‘n diagnose wat haar hele lewe in ‘n oogwink verander het. Weens die behandeling en haar gereelde opname in die hospitaal kon sy nie haar matriek saam met haar medeleerders voltooi nie.
Lees meer:
https://roodepoortrecord.co.za/2019/10/08/ek-voel-beter-as-ooit-florida-se-clarece-laat-haar-nie-onderkry-nie-web/
Maar, sy het nie toegelaat dat dit haar onderkry nie, en het besluit dat sy haar matriek sál slaag, ongeag haar omstandighede of die struikelblokke in haar pad. Clarece het verlede jaar baie hard gewerk, en het vertel dat sy tussen haar behandeling en werk by die dansstudio deur geleer het soveel sy kon. “Ek moet eerlik wees en sê dat ek gerus gevoel het dat ek darem die eksamen sou oorleef en goeie punte sou kry. Natuurlik kon ek dit nie nét met my positiwiteit vermag nie. Al die ondersteuning wat ek van my familie en vriende ontvang het, het ‘n baie groot rol gespeel,” het sy gesê.
Clarece het bygevoeg dat sy tóg maar effe senuweeagtig was die oggend toe hulle haar uitslae gaan haal het. “Ons was baie vroeg by die skool en my uitslae was nog nie eers in ‘n koevert nie; ek het net so vinnig geloer en was baie verlig!”
Kyk hier na die video:
Haar ma, Fransie Scholtz het vertel dat sy nie een oomblik in Clarece se vermoëns getwyfel het nie, “Elke dag as sy geskryf het, was sy positief voor die eksamen en tevrede as sy klaar geskryf het.
“Ons was net na 7vm – heel eerste – by die lokaal om haar uitslae te kry. Ek was emosioneel en trots om te dink sy het nie tou opgegooi nie, al is haar lewe nie maanskyn en rose nie. En, as jy die uitslag voor jou het, verdwyn die moeilike dae, veral as jy haar stralend gelukkige gesig sien.”
Clarece het vertel dat daar nog ‘n rede was hoekom sy matriek wou slaag. “My grootste motivering was eenvoudig dat as ek nie matriek slaag nie, kan ek nie met my onderwysstudies begin nie en dan kan ek nie my grootste passie, om ‘n dansinstrukteur te word, nastreef nie.”
Sy het ook die geleentheid gekry om haar eie dansstudio te bestuur, en al gaan dit nog stadig, is daar wel vordering. “Ons het alreeds positiewe terugvoering ontvang van sekere van die skole en kleuterskole wat ons besoek het.”
Sy het ook die geleentheid gebruik om haar dankbaarheid teenoor die skool, onderwysers en gemeenskap uit te spreek. “Ek moet ook die hoof en onderwysers by Hoërskool Florida bedank vir hul begrip, omgee en bystand deur die moeilike en die beter tye die laaste twee jaar. Dankie ook vir elke gebed, ondersteuning en liefde van almal wat ons ken – daarsonder sou ons dit nie gemaak het nie.”
Haar boodskap aan ander matriekleerders wat nie so goed gevaar het nie, is eenvoudig. “Wanneer jy ‘n tweede kans kry, gryp dit met albei hande aan en doen die beste wat jy kan. So ‘n kans kom nie altyd oor jou pad nie.”
Fransie het vertel dat Clarece intussen by die Dance Academy SA (DASA) aansoek gedoen het en aanvaar is, en alhoewel sy ongelooflik opgewonde en trots is, is die uitgawes wat daarmee gepaard gaan vir haar ‘n groot bekommernis. “Die kostes beloop R13 250 x 2, of R2 800 x 10, of ‘n eenmalige betaling van R25 000 vir die klasse. Op 27 en 28 Februarie word die DASA-konferensie gehou, wat R800 beloop. Die balletklasse wat Clarece nou aanbied betaal nog nie genoeg om hierdie kostes te kan dek nie. Ons het ‘n BackaBuddy-fondsinsamelingbladsy vir haar begin om te kyk of ons dalk hierdie droom van haar kan bewaarheid. As daar dalk iemand is wat kan help, of ‘n donasie wil maak, kan hulle die bladsy besoek by https://www.backabuddy.co.za/clarece-scholtz,” het Fransie afgesluit.




