Local newsNews

‘n Mooier dorp met AfriForum se hulp

As een van 30 sogenaamde ankerdorpe kry Krugersdorp spesiale aandag deur AfriForum se talle projekte.

Krugersdorpers wag al lank vir die lente om uiteindelik gesig te wys en nuwe lewe in die droë dorp te bring.

Die eerste tekens van groenigheid het onlangs verskyn, en AfriForum Krugersdorp het besluit om die lente aan te help deur hul jaarlikse boomplantprojek af te skop. Hulle het sowat 30 jong bome op Friends of Rescued Animals se gronde geplant.

JP Nel en Lambert de Klerk is hard aan die werk by FORA. Foto: Jaco Human.

“AfriForum moedig sy lede aan om inheemse bome te plant wat in hul omgewings aard,” het Dewet Ungerer, AfriForum se Wes-Randse Distrikskoördineerder verduidelik.

Hierdie goeie daad vorm deel van die #ANKERDORPPADSKOU-projek waardeur AfriForum, in samewerking met die Solidariteit Navorsingsinstituut, hoop om Afrikaans en sy kultuur te versterk in 30 gekose dorpe oor die land. So mik hulle om die omgewing en die lewens van plaaslike Afrikaners te verbeter. ‘n Totaal van 3 000 bome word in hierdie tydperk in ankerdorpe regoor Suid Afrika geplant, en gaan hand aan hand met ander AfriForum-projekte soos skoonmaakaksies, ‘n teenboelieveldtog by skole, en goedvoelaksies om inwoners bymekaar te bring en so ook ondersteuning aan elk te bied.

JP Nel vul die gat op. Foto: Jaco Human.

Sowat 60 bome is in Krugersdorp geplant, onder meer by skole, sentrums vir bejaardes en kerke.

“Deur inheemse bome te plant, bewaar ons nie net ons omgewing en maak dit ‘n mooier plek om in te bly nie. Ons wys ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as bloot ‘n belangrike deel van die ekostelsel of ‘n noodsaaklike natuurlike hulpbron – bome is simbolies van lewe,” het Dewet gesê.

JP Nel vul die gat op. Foto: Jaco Human.

AfriForum Krugersdorp wil graag meer doen en vele meer mense se lewens aanraak. Hul word egter beperk deur ‘n tekort aan vrywilligers wat kan help om die projekte uit te voer. Die groep groei egter vinnig en neem gereeld meer lede in.

Indien jy sou belangstel om ‘n lid van AfriForum te word en ‘n verandering in die gemeenskap teweeg te bring, kan hulle gekontak word by 086 102 0030.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button