Laerskool Helderkruin het van 3 tot 5 September hul Kruiner-skouspel met groot sukses aangebied.
Hierdie revue was nie ‘n gewone konsert in die saal nie. Nagenoeg 3 600 lede van die gemeenskap het op die skool se sportveld, wat in ‘n kleurvolle buitelugteater omskep is, na die skouspel met ‘n Afrikaans is Groot-tema gaan kyk.

Die leerders van Graad RR tot Graad 7 het met groot passie en genot die gemeenskap vermaak, en almal het dit baie geniet.
Die organiseerders – twee onderwysers by die skool – Karen Lourens en Madeleine Botha, het nege maande gelede besluit dat dit na vier jaar weer tyd vir ‘n Kruiner-skouspel was. Die leerders het baie hard geoefen om die aand vir hulself en hul gehoor ‘n sukses te maak.

“Ons wil graag die volgende borge bedank vir hul moeite: BrandInteGr8, Wholesome Pet Foods, Brooklyn Brothers, Shear Perfection, EDRO, Del Forno, Spine, en Grindit Coffee Co., asook Magico, wat die klank en beligting behartig het,” het Karen en Madeleine afgesluit.




