Laerskool Horison het vanjaar ‘n nuwe personeellid en adjunkhoof, Evan Coetzee verwelkom.
Evan het in 2002 aan Hoërskool Jeugland gematrikuleer, en het na skool besluit om sy graad in sportwetenskap aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie te voltooi. Daarna het hy sy nagraadse studie in onderwys voltooi, en is tans met sy honneursgraad in Opvoedkunde besig.
Die nuwe adjunkhoof het ook ‘n groot passie vir sport. Hy is die afgelope drie jaar by Streeksrugby betrokke as die afrigter van die Wes-Randse o.11A-span en ook Krugersdorp se o.10-krieketspan. Hy is self ‘n atleet en neem steeds semiprofessioneel aan wedlope deel. Een van sy atlete het tydens vanjaar se Comrades Maraton ‘n gouemedalje verower.
Maar sport is nie al wat hom na aan die hart lê nie. Evan is ook ‘n kundige in natuurwetenskappe vir Graad 6- en 7-leerders.
“Laerskool Horison verwelkom u in ons midde en vertrou dat u baie gelukkig by ons sal wees – nie net akademies nie, maar ook op die rugby- en krieketveld is meneer vir ons ‘n groot aanwins,” het Annamien Smith van Laerskool Horison afgesluit.




