NewsSchools

Jong entrepreneurs sal baat by kompetisie

Die kompetisie is by Laerskool Roodekrans geloods

 

‘n Unieke kompetisie, wat daarop gemik is om die vaardighede van jong entrepreneurs te ontwikkel, is onlangs by Laerskool Roodekrans bekend gestel.

Dié kompetisie, wat deur AfriForum Onderwys en AfriVriendelik ontwikkel is, se doel is om die entrepreneursvaardighede van jong kinders van vroeg af te ontwikkel. “Ons wil ons mense en kinders aanmoedig en inspireer om daar waar hulle is ‘n verskil in die gemeenskap te maak. Ons wil hê kinders moet besef dat hulle eendag ‘die baas’ kan wees, mits hulle hard werk aan hul idees en die uitvoering daarvan,” het Sanderien van der Walt, AfriVriendelik se projekkoördineerder verduidelik.

Sanderien van der Walt en Mareli Rall.

Laerskoolleerders van regoor die land sal om die beste produkidee en basiese vaardighede meeding om hul produk suksesvol te ontwikkel, te bemark en te verkoop.

Inskrywings vir die Besigheidsbytjies-kompetisie kan in twee kategorieë gedoen kan word – Graad 1 tot 3 (sewe- tot negejariges) en Graad 4 tot 7 (10- tot 13-jariges). Die publiek sal vir die deelnemers kan stem, en ‘n paneel sal dan die wenners aanwys.

Sanderien het gesê, “Met hierdie entrepreneurskompetisie wil ons kinders beloon wat wys dat hulle selfstandig kan werk en kreatief kan wees om idees in ‘n onderneming te omskep.”

Leandie Brässler, AfriForum se projekkoördineerder het bygevoeg, “Ons glo dat die Besigheidsbytjies-kompetisie leerders se leierseienskappe sal ontwikkel en hulle ook sal leer om self verantwoordelikheid te neem om hul idees uit te voer. Ons kinders is immers die leiers van die toekoms, en hulle kan hoop skep deur van jongs af aan hul toekoms te bou.”

Laetitia Dee, die hoof uitvoerende beampte van Laetus Life, wat die leerders tydens die bekendstelling toegespreek het, het gesê dat jy baie van jouself en die lewe leer wanneer jy jou eie onderneming bedryf. “Hoe vinniger ons kinders met hul talente begin woeker, hoe beter sal hulle toegerus wees om die lewe aan te pak.”

Sanderien van der Walt, Alta Strauss en Leandie Bräsler tydens die bekendstelling van die Besigheidsbytjies-kompetisie. Foto’s: Verskaf.

Alta Strauss, motiveringspreker en entrepreneur, het met die volgende woorde afgesluit, “Ons het ‘n verantwoordelikheid om in ons kinders te belê, en hierdie inisiatief is nie net ‘n aanwins vir die individu nie, maar vir ons land in geheel.”

Vir meer inligting oor die kompetisie, stuur ‘n epos na besigheidsbytjies@afriforum.co.za.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button