‘n Groep leerders van Hoërskool Florida het aan die afgelope Steam-kompetisie van Standard Bank deelgeneem en as wenners uit die stryd getree.
Dié kompetisie is deel van die bank se inisiatief om vakke soos wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde by leerders te bemark.
Die uitdaging was om ‘n probleem in die skool of die gemeenskap te identifiseer en dan ‘n moontlike oplossing daarvoor te ontwikkel.
Standard Bank glo in die jeug en dat hulle opgewonde moet wees om nuwe, beter en vinniger maniere te vind om opdragte en take uit te voer. Hulle glo dat leerders reeds in hul vrye tyd besig is met briljante nuwe uitvindings en tegnologiese deurbrake.
Hierdie jaar is ‘n paar Hoërskool Florida-leerders amper raakgery terwyl hulle oor die besige Louis Botharylaan skool toe gestap het, en die Florrie-wenspan het besluit om op hierdie probleem te fokus.
Met die hulp van ‘n Raspberry Pi- en Microbit-rekenaars het hulle ‘n model saamgestel wat verkeer simuleer.
Die stelsel het die verkeer gemonitor en dan deur middel van flikkerende ligte die voetgangers teen aankomende verkeer gewaarsku.
“Baie geluk aan die spanlede – Marietjie Dreyer, Christelle Havenga, Dana Janse van Vuuren, Dillan Blaauw, Justin Feyerabend, Suné Toerien, Clayton Swanepoel en Schalk Pretorius (ons entoesiastiese spanleier) – met jul eerste plek en die CrowPi ter waarde van R30 000 wat julle vir die skool gewen het. Ons waardeer jul harde werk, opoffering en tyd en vertrou dat julle jul ervaring met elke Florrie sal deel, “ het Morné Hanekom, die skool se skakel- en bemarkingsbeampte gesê.




