Discovery-paartjie vier vyf dekades van liefde
Nadat pastoor John Cloete van die Ahavah Familiekerk in Muldersdrift hulle geseën het en die ringe uitruil is, het die paartjie hul liefdesreis met die gaste gedeel
Henry en Marlene Albertyn het nie toegelaat dat die lewe se struikelblokke hulle onderkry nie en het 50 jaar se huweliksgeluk op liefde en genade gebou.
Hierdie spesiale egpaar het hul 50ste huweliksherdenking op ‘n spesiale manier gevier deur hul beloftes in die teenwoordigheid van hul gesin en vriende by die Little Miss Muffin Restaurant op 30 Maart te hernu. Nadat pastoor John Cloete van die Ahavah Familiekerk in Muldersdrift hulle geseën het en die ringe uitruil is, het die paartjie hul liefdesreis met die gaste gedeel.
“Ons het 52 jaar gelede in Discovery ontmoet en twee jaar later is ons in die NG Kerk in Discovery getroud. Ons het saam regoor die land gereis,” het Henry vertel. Volgens hom is die resep vir hul gelukkige huwelik baie eenvoudig, en het gesê, “Baie liefde, genade van bo en ‘n gewilligheid om te vergewe”.

Die egpaar is geseën met drie kinders en drie kleinkinders. “Ons is gelukkig om wonderlike kinders en hul kinders te hê, elkeen met ‘n wonderlike toekoms,” het Henry gesê.
Marlene het ook gesê dat huwelike deesdae skaars vyf jaar hou omdat paartjies te maklik opgee en die handdoek ingooi. “Ons kom uit ‘n era waar ons dinge regmaak. Ons gooi nie net probleme uit nie.
Ek dink jongmense gee te gou moed op en gooi te maklik iets weg wat nie ‘reg’ is nie. My raad aan hulle is om te volhard, maklik te vergewe en om altyd liefde aan mekaar te betoon.”
Henry het ook met dankbaarheid verwys na die rol van hul familie, waarvan baie die feesvieringe bygewoon het. “Ek was baie lank baie siek en as dit nie vir my vrou, ons kinders en ons vriende was nie, sou ek dit nie oorleef het nie,” het Henry gesê. Hy het reeds vier maal kanker oorwin.
Marlene het bygevoeg: “Hierdie geleentheid is vir ons ekstra spesiaal omdat my man se lewe gespaar is sodat ons vandag 50 jaar se liefde en samesyn kan vier.”
Voordat die feesvieringe afgesluit is, het die paartjie aangekondig dat hulle binnekort vir ‘n maand lank Kaap toe gaan vir ‘n welverdiende vakansie.




