Wilropark-paartjie vier 50ste huweliksherdenking
‘Ons liefde vir mekaar het net sterker geword’
Willie en Marietjie Bouwer het mekaar 56 jaar gelede ontmoet en dadelik geweet hulle is vir mekaar bedoel.
Op 1 Maart vanjaar het hulle hul 50ste huweliksherdenking gevier en is nog net so lief vir mekaar soos toe hulle net ontmoet het.
“Ek het haar vir die eerste keer by die Bloemfontein-skou in 1963 gesien. Sy was ‘n trompoppie en ek het net daar besluit dat hierdie trompoppie my poppie gaan wees! Ek het ook nie gras onder my voete laat groei nie, en op 23 November 1963 het ek haar gevra om te kys,” het Willie ondeund vertel.Marietjie het bygevoeg dat sy Willie se seëlring, waarop sy naam gegraveer was, met groot trots gedra het totdat hy dit met ‘n verloofring vervang het.
““Ons was ses jaar saam voordat hy die jawoord gevra het. Ek onthou dit nog soos gister. Willie se pa het met skoukanaries geboer, en een aand, terwyl ons gekuier het, het hy vir my gesê ek moet saam met hom na die voëltjies gaan kyk. Dit was vir my nogal vreemd, want dit was reeds donker en ek het hom gevra hoe ons enigiets sou sien, maar hy het hom nie laat voorsê nie,” het Marietjie vertel.
Toe hulle by die voëlhok kom, het ‘n stoel met ‘n lekker sagte kussing daar gereed vir haar gestaan. “Ons het so ‘n rukkie gesit en die voëltjies dopgehou, voordat Willie sy skuif gemaak het. Hy het die boksie met die verloofring uit sy wegsteekplek gehaal en gevra of ek met hom sou trou. Natuurlik het ek ja gesê!”
Willie moes egter eers ouers vra, en belowe dat hy vir haar sou sorg. “Die liefde wat hy daardie dag beloof het, staan vandag nog,” het Marietjie gesê.
Die paartjie het eers in Bloemfontein en Durban gewoon voordat hulle in Wilropark nesgeskrop het waar hul twee seuns grootgeword het. Hulle het ook vier kleinkinders.
Al hou Willie net so nou en dan nog Marietjie se hand vas wanneer hulle stap, is hulle glad nie skaam om te erken dat hulle na al die jare saam steeds baie lief vir mekaar is nie.
“Daar is nie regtig ‘n geheime resep vir ‘n lang en gelukkige huwelik nie. Die belangrikste is liefde en dan ook kommunikasie. Ons het in 50 jaar nog nooit kwaad vir mekaar gaan slaap nie, en kon nog altyd met mekaar gesels,” het Marietjie afgesluit.”




