Witpoortjie-atleet se droom bewaarheid
Sy het 'n eerste plek by die Interlaer behaal
Leoné van Eeden, 10, droom daarvan om eendag ‘n gewigstootkampioen te wees en het alreeds die eerste stap daarheen voltooi.
Sy is in Laerskool Dr Havinga en het vertel dat sy verlede jaar vir die eerste maal aan die Interhuisbyeenkoms deelgeneem het, “Ek het sommer net vir die lekker gaan deelneem en het toe die gewigstootitem gewen en vir die Interlaer gekwalifiseer.”
Tydens hierdie byeenkoms het sy ‘n vyfde plek behaal en toe nie vir verdere deelname gekwalifiseer nie. Daar en dan het sy besluit dat sy die volgende jaar ‘n eerste plek wil behaal. “My pa, Gert, was ook ‘n gewigstootatleet en hy het my begin afrig. In Oktober verlede jaar het ek aan ‘n byeenkoms by Laerskool Roodekrans deelgeneem en ‘n eerste plek behaal met ‘n afstand van 8,6m (twee meter verder as die res van die deelnemers),” het Leoné gesê.

Hoewel haar maats vir haar gelag het omdat sy by die huis saam met haar pa geoefen het, het dit haar nie ondergekry nie. Sy het deurgedruk en selfs haar Desember-vakansie opgeoffer om haar droom van ‘n eerste plek te bewaarheid.
In Januarie hierdie jaar het sy by Carlien Swanepoel van WEE Train Lifestyle Fitness begin oefen, en baie goeie prestasies behaal. Carlien het gesê, “Vanjaar het sy by die Interhuis ‘n eerste plek behaal met ‘n afstand van 9,36m, by Bryanston het sy ‘n tweede plek behaal met ‘n afstand van 9,19m en by die Interlaer het sy haar droom bewaarheid, en met die eerste plek weggestap. Sy het ‘n afstand van 9,36m gehaal!”
Leoné het vir die Roodepoort Kampioenskappe gekwalifiseer en die tweede plek wat sy daar behaal het, het haar deelname aan die D12-kampioenskappe verseker waar sy ook ‘n tweede plek behaal het.
Carlien glo dat Leoné nog baie ver in die sport sal vorder en stof in die oë van haar kompetisie sal skop. “Sy is beslis gereed om vir vanjaar se Suid-Afrikaanse Kampioenskappe te kwalifiseer. Sy het geweldig gegroei as atleet, en die rou talent wat sy vir hierdie spesifieke item het, sal haar beslis nog ver bring. Sy is immers net 10 jaar oud. Tydens oefening het sy ook die gewig alreeds verder as 10m gestoot.”
Carlien, wat self ‘n atleet was, het die WEE Train Lifestyle Fitness-program ontwikkel en aangepas om atlete te help groei en te verseker dat hulle tot die beste van hul vermoëns presteer.
“Sommige ouers kan nie hierdie tipe afrigting bekostig nie, en ek wens ook dat ek almal kon help. Ons maak staat op borge om kinders by die program betrokke te kry. Daar is ongelooflik baie kinders wat ver kan kom in die sport, maar wat nie raakgesien word nie omdat hulle nie die regte afrigting en blootstelling kry nie,” het Carlien gesê.
Vir meer inligting kontak Carlien deur vir haar ‘n epos te stuur na weetrain101@gmail.com of besoek hul Facebook-bladsy, WEE Train Lifestyle Fitness (https://www.facebook.com/weetrain101/)




