NG Kerk Culembeek se boerebasaar ‘n groot sukses
'Ons is so dankbaar vir die gemeenskap se ondersteuning'
Die NG Kerk Culembeeck se jaarlikse basaar is gewoonlik vet pret, en hierdie jaar was dit ook nie anders nie. Almal het hulle gate uit geniet.
Die tema was ‘Boerebasaar’ en daar was beslis iets vir elkeen – van vetkoek en maalvleis, pannekoek, poeding, koek en tert tot ‘n witolifanttafel, speletjies, gesigverf, springkastele, toutrek, driebeenresies en selfs bokdrolspoeg.

Riaan Nel, die gemeentebestuurder en basaarorganiseerder het gesê, “Hierdie is een van ons grootste fondsinsamelingsprojekte vir die jaar en al die wins word nie nét vir die kerk aangewend nie, maar ook vir verskeie van ons projekte, waaronder die sendelinge, broodjieprojek by die skole en die Cross Connect-bediening. Ons probeer ook om in die behoeftes van die breër gemeenskap te voorsien.”
Hy het bygevoeg dat die gemeenskap hulle elke jaar ongelooflike goed ondersteun. “Ons bedank graag almal wat ons kom ondersteun het want sonder hulle sou die basaar nie ‘n sukses kon wees nie.”

Riaan het gesê dat hulle reeds besig is om die volgende groot funksie, hulle jaarlikse Lentefees, te beplan. “Ons beplan om die funksie vanjaar nie by die kerk te hou nie maar by ‘n groter venue. Ons wil ook sangers nooi om by hierdie funksie te kom optree wat vroeg in September plaasvind,” het hy vertel.
Hy het bygevoeg dat hulle bydraes en borge nodig het om van hierdie funksie ook ‘n sukses te maak. “Enigiemand wat graag wil help kan my gerus kontak by 083 556 0138.




