Geen kans om dodelike siekte te oorwin
'Niks berei jou voor op wat vir jou wag na die diagnose nie'
“Jy is nooit gereed vir kanker nie, en niks berei jou voor op wat vir jou wag nadat jy gediagnoseer is nie.”
Die 42-jarige Pieter le Roux is verlede Februarie met liposarkoom gediagnoseer. Dit is ‘n baie skaars en aggressiewe tipe kanker wat die vetselle en sagte weefsel van die liggaam aantas.
Dié kanker affekteer gewoonlik mense tussen 40 en 60 jaar oud, en is meestal ongeneeslik, wat beteken dat tyd iets is waarvan die 42-jarige Pieter le Roux nie baie oor het nie.

Hy het vertel dat hy die afgelope vier jaar met pyn in sy bene sukkel. “Ek is oorspronklik na die Yusuf Dadoo Hospitaal in Krugersdorp omdat ek bekommerd was oor ‘n knop op die maermerrie van my regterbeen. Hulle het vir my gesê dat dit ‘n bloedklont is, en my met medikasie huis toe gestuur. Maar, die knop het nooit weggegaan nie, en die pyn het net vererger.”
Die gewas is in Januarie verlede jaar verwyder. “Die operasie is gedoen sonder dat daar eers ‘n biopsie gedoen is. Dit het binne ses weke teruggegroei. Ek is toe laat weet dat die gewas kwaadaardig was en is na die Onkologie-afdeling by Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal verwys,” het Pieter gesê.
Intussen het hy ook ‘n gewas aan sy bobeen ontwikkel. “Die probleem met hierdie tipe kanker is dat die behandeling wat gewoonlik gedoen word, soos chemoterapie en bestraling, nie noodwendig werk nie,” het hy verduidelik.
Een van die opsies was amputasie, maar aangesien Pieter reeds Fase 4-kanker het, is dit nie ‘n oplossing nie. Dit het al na sy longe versprei en ‘n amputasie sal te riskant wees. Volgens Pieter kan daar niks meer vir hom gedoen word nie.
Wat hierdie diagnose vir Pieter nóg moeiliker maak, is dat hy moes ophou werk. Hy het vertel, “Ek het as ‘n kontrakteur gewerk, maar moes noodgedwonge ophou. Ons het alles verloor en ek, my vrou en vier kinders bly op die oomblik by my skoonma-hulle in ‘n drieslaapkamer-woonstel. ”
‘n Mens voel so waardeloos; ek is veronderstel om die hoof van die huis te wees, maar ek kan nie eers vir my gesin sorg nie. Hoe verduidelik ek vir my kinders wat aan die gang is? Hoe moet hulle dit verstaan?” het ‘n emosionele Pieter gevra.
Die gesin se hoofinkomste is baie wisselvallig, aangesien Pieter se vrou net op kommissiebasis werk. “Ons kan nie regtig begroot nie, want ons weet nooit presies hoeveel geld daar aan die einde van die maand gaan wees nie. My 18-jarige seun het deeltyds as ‘n kelner begin werk, en hy gee ook meeste van sy salaris vir die huishouding. Ek het by Sassa vir ‘n ongeskiktheidstoelae aansoek gedoen, maar ontvang slegs R450 per maand.”
Pieter het gesê dat hulle maandeliks baie uitgawes het omdat hulle gesin redelik groot is. “My jongste dogter is sewe maande oud, en haar doeke en melk is baie duur. Ek moet ook daagliks my been versorg, en die verbande en ander benodigdhede kos ‘n aardige bedraggie. Ons kruidenierswarerekening is ook nie iets om oor te glimlag nie. Ek sal ook graag met iemand wou gesels wat bietjie meer van hierdie siekte af weet, wat my kan help en advies gee.”
Vir meer inligting, of om uit te vind hoe Pieter gehelp kan word, stuur ‘n epos na adeleb@caxton.co.za. Die inligting sal aan Pieter gestuur word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



