Witpoortjie-paartjie vier 50 jaar van liefde
''n Suksesvolle huwelik is nie soos 'n romantiese storieboekverhaal nie'
Na 50 jaar, vyf kinders, agt kleinkinders en ‘n agterkleinkind op pad is die Cox-egpaar se liefde nog net so sterk soos die dag toe hulle getroud is.
Dié paartjie, wat in Witpoortjie woon, het onlangs hul 50ste huweliksherdenking gevier, en Peter, 76, kan nog sy ontmoeting met Frieda, 73, onthou asof dit gister gebeur het.
“Terwyl ek by ‘n familielid in Roodepoort gekuier het, het ‘n heerlike parfuumgeur my aandag getrek. Toe ek die eienaar van hierdie geur opgespoor het, was ek dadelik verlief, en twee jaar later is ek en Frieda getroud. Ek is daarvan oortuig dat sy daardie dag die parfuum met opset aangesit het om te verseker dat ek sommer vinnig agter haar sou aanhardloop,” het hy vertel.
Hulle is dit eens dat ‘n huwelik nie vanself glad verloop nie; jy moet hard werk. “‘n Suksesvolle huwelik is nie soos ‘n romantiese storieboekverhaal nie, jy moet elke dag aan jou huwelik werk. Dit is belangrik om nie op te gee sodra die eerste probleem opduik nie. Luister na mekaar en werk deur die probleem – al lyk dit hoe moeilik. Sorg dat alle probleme uitgepraat word, en moet nooit kwaad gaan slaap nie. Staan mekaar altyd by en wees daar vir mekaar – veral in moeilike tye. Sorg dat julle genoeg tyd saam spandeer en maak tyd om te lag, want dit maak jou dag lekker,” het Peter afgesluit.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



