Rugby vloei deur sy are
Marcel is een van ses spelers wat gekies is om in Mauritius rugby te speel
Marcel Otto, ‘n Graad 6-leerder van Laerskool Dr Havinga, het onlangs gehoor dat hy sy rugbytalent in Mauritius kan gaan ten toon stel.
Die toernooi vind van 2 tot 9 Oktober plaas.
Dié 12-jarige Marcel speel rugby vandat hy in Graad R was, en is hierdie jaar vir die skool se eerstespan gekies. Hy is ook sedert hy in Graad 2 was, by die Roodepoort Rugbyklub betrokke.
Sy ma, Maryka Otto het vertel, “Hy is tydens wedstryde wat by Florida gespeel is, deur die Rams Rugby Academy raakgesien. Hy is een van ses spelers in Gauteng wat gekies is om die provinsie by ‘n sewestoernooi in Mauritius te verteenwoordig.”
Sy het bygevoeg dat dit vir Marcel ‘n groot voorreg en eer is, want hy eet, slaap en droom rugby. “Voormalige Springbok-rugbyspelers en internasionale keurders en werwers gaan ook die toernooi bywoon. Dit is definitief ‘n eenmaal in ‘n leeftyd geleentheid wat Marcel se toekoms kan bepaal en baie deure vir hom kan oopmaak.
“Daar is min kinders wat hierdie groot geleentheid kry, en ons weet dat hy die kans sal aangryp om homself te bewys. Dit is sy droom om eendag die groen en goud oor sy kop te trek en sy land te verteenwoordig. Hierdie toernooi kan dalk net die eerste tree wees om hierdie droom te bewaarheid,” het Maryka verduidelik.
Die kostes vir deelname aan die toernooi beloop R28 500 per persoon, en vir die Otto-gesin is dit ‘n groot struikelblok. “My man was in ‘n ernstige motorongeluk betrokke en het sy werk verloor. Ons het reeds verskeie maatskappye genader vir borgskappe of donasies vir Marcel, en sy ouma verkoop boereworsrolle om te help met die kostes,” het sy gesê.
Sy het bygevoeg dat hulle groot wens is dat Marcel se pa hom op die toer vergesel, en het gesê, “Marcel is net 12-jaar oud, en ons sal definitief meer gerus voel as een van sy ouers saam met hom gaan. Dit sal natuurlik ook vir sy pa baie beteken.”
Sy het bygevoeg dat enige donasies direk in die Rams Rugby Academy se rekening inbetaal word, wat verseker dat elke sent vir die regte doel aangewend word.
“As ouers sal ons alles in ons vermoë doen om te help dat hierdie droom vir Marcel bewaarheid word, want mens weet nooit wat die toekoms inhou nie,” het Maryka afgesluit.
Vir meer inligting, asook om die bankbesonderhede te kry, stuur ‘n epos aan Maryka by MarykaO@vatit.com.
Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at roodepoortrecord@caxton.co.za (remember to include your contact details) or phone us on 011 955 1130.
For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!



