Geliefde Pietertjie se begrafnisreëlings en sy laaste verjaarsdag op video
Pietertjie se begrafnisreëlings is deur sy suster, Meisie, bekend gemaak.
Pietertjie Erasmus is Maandag, 4 Junie, na ‘n hartaanval in sy suster, Meisie Stander se huis oorlede. Sy het die afgelope 24 jaar vir Pietertjie gesorg.
Pietertjie was regdeur Witpoortjie bekend as ‘n karwag by onder andere die Witpoortjie Mediese Sentrum in McGrathstraat en by Pick n Pay se parkeerterrein.
Hy het altyd ‘n vriendelike woordjie vir almal gehad, en het graag ‘n geselsie met mense aangeknoop.
Lees die oorspronklike artikel hier: Witpoortjie groet geliefde Pietertjie – ‘Ek wou nog gister vir hom ‘n nuwe loopraam koop’
Pietertjie het ‘n ruk lank gesondheidsprobleme gehad. Hy het egter al hoe sieker geword en Maandagoggend is Meisie se ergste vrees bewaarheid.
Sy het hom, toegedraai in komberse, op sy slaapkamervloer aangetref.
“Ek moes die komberse loswikkel voor ek kon sien dat hy nie beweeg nie,” het Meisie bewoë vertel. Sy het bygevoeg dat hy vermoedelik tussen 4vm en 5vm weens ‘n hartaanval sy laaste asem uitgeblaas het.
Meisie het Woensdagaand (6 Junie) Pietertjie se begrafnisreëlings aan die Record bekend gemaak.
Volgens Meisie sal Pietertjie se begrafnis op Dinsdag, 12 Junie om 11vm vanuit die Roodepoort Baptist Church in Progressweg in Lindhaven gehou word.
Meisie het ook die gemeenskap vir ‘n bydrae gevra vir die verversings na die begrafnis.
“Ons het reeds vir die begrafnis betaal, maar ons wil asseblief ‘n geldjie insamel om vir die verversings te betaal,” het Meisie gepleit.
As jy ‘n helpende hand wil uitreik, kan jy vir Meisie skakel by 072 986 8753.
Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at roodepoortrecord@caxton.co.za (remember to include your contact details) or phone us on 011 955 1130.
For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!



