Vêrgooispan stap met louere weg by kampioenskappe
'Die volgende stap is om vir die Wêreldkampioenskappe te kwalifiseer'
“Ons het al vier ons items gewen, en is as die kampioene gekroon,” het Francois Pienaar gesê.
Hy het saam met Johan Beukes en Marius Pienaar aan die afgelope vêrgooikampioenskappe in Richardsbaai deelgeneem. “Ons het KwaZulu-Natal verteenwoordig, en het die 100g-, 125g-, 150g- en 175g-item gewen,” het hy vertel.
Francois het bygevoeg dat vêrgooi eintlik ‘n spansport is maar as net een in die span nie sy kant bring nie, kan die span nie goed presteer nie. Hy het ‘n algehele tweede plek behaal, en Johan was die algehele wenner.
Francois neem al sedert 1993 aan vêrgooi deel en was al sewe keer die Suid-Afrikaanse kampioen. Hy het aan drie wêreldkampioenskappe deelgeneem waar hy ‘n tweede plek behaal en ook die Suid-Afrikaanse rekord verbeter het. Hy is egter vasberade om beter te vaar.
“Om vir Suid-Afrikaanse kleure te kwalifiseer, moet jy ‘n gekombineerde afstand van 840m gooi. Ek, Johan en Bossie Janse van Rensburg het gekwalifiseer vir SA-kleure maar ons moet nog aan die twee laaste proewe in Junie en Augustus deelneem,” het Francois gesê.
Die vêrgooi-wêreldkampioenskappe vind volgende jaar in Februarie in Pretoria plaas, en die span sal einde Augustus bekend gemaak word.
“Dit is om die draai en as ek aan die kampioenskappe wil deelneem moet ek hard oefen en sorg dat ek voorbereid is,” het hy gesê.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



