Roodepoort-model ‘n stappie nader aan sy droom
'Ek het dit baie geniet en baie geleer'
“Dit was ‘n ongelooflike ervaring wat ek vir altyd sal onthou. Ek het dit vreeslik geniet en baie nuwe goed geleer!” het Kyle Ras gesê.
Dié 13-jarige is vroeër vanjaar deur sy afrigter, Theresa de Stoppelaar, gekies om aan die jaarlikse konferensie van die International Models and Talent Association (IMTA) deel te neem. Die konferensie het op die MSC Sinfonia plaasgevind, en alle deelnemers het die geleentheid gehad om voor sewe internasionale agente op te tree.
“Ons is baie dankbaar vir al die hulp en donasies wat ons van verskeie mense ontvang het. Dit het gehelp dat Kyle wél deel van die konferensie kon wees. Dit was beslis vir hom ‘n eenmaal-in-‘n-leeftyd ervaring wat hy vir altyd sal onthou, en wat ook vele deure vir hom oopgemaak het,” het Liaan Ras, Kyle se ma, gesê.
Sy het bygevoeg dat Kyle in vyf kategorieë deelgeneem het en baie goed presteer het. “Hy is as die wenner in die Commercial Artists-afdeling aangewys, en het onder die Top 5 in al die ander kategorieë geëindig. Hy is ook al deur drie van die sewe agente genooi vir verdere oudisies,” het sy trots vertel.
Alhoewel Kyle nie vir deelname aan die kompetisie in New York gekwalifiseer het nie, glo hy dat die ondervinding wat hy opgedoen het, hom in die toekoms sal bevoordeel.
“Dit was vir my ‘n groot voorreg om die konferensie te kon meemaak en ek is baie dankbaar vir al die borge. Ek was nogal senuweeagtig omdat ek nie seker was wat om te verwag nie, dit was my eerste keer op n boot soos die Sinfonia. Ek het baie geleer by die seminars, waarvan ons ten minste drie per dag bygewoon het.
Daar was ook elke dag kompetisies wat ek baie geniet het. Ek het nie gedink ek sou enige uitnodigings kry nie want daar was soveel ouens langer en meer ervare as ek, maar toe ek hoor ek het drie gekry, was ek uit my vel uit!
Die agente het my goeie raad gegee oor my toekoms wil my graag weer by volgende jaar se konferensie sien. Tydens die gala-aand was ek baie verbaas toe ek as wenner in die Kommersiële Druk ( Commercial Print) kategorie aangekondig was, en dit het beslis die harde werk en oefening die moeite werd gemaak. Ek sal baie graag aan volgende jaar se konferensie wil deelneem en my toekoms in model en drama te bevorder,” het hy afgesluit.”
Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at roodepoortrecord@caxton.co.za (remember to include your contact details) or phone us on 011 955 1130.
For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!



