Operasie eerste tree op pad na herstel
Tytan gee eerste tree op herstelpad
Die 10-jarige Tytan Swarts het op 24 November die eerste stappie op sy pad na herstel gegee nadat sy voetoperasie suksesvol was.
Tytan kon weens verkorte Achilles-senings in albei hakskene nie platvoet loop nie. Hy kon net op sy tone loop, wat nie net veroorsaak het dat hy nie net saam met sy maats kon hardloop en speel nie, maar dat sy rug en heupe probleme begin gee het.
Lees ook: Stoeiers help om 10-jarige se droom te bewaarheid
Dalene Swarts, Tytan se ma, het vertel dat die operasie ‘n sukses was en hoewel Tytan nog heelwat pyn ervaar, hy alreeds redelik beweeglik is so met die gips en krukke saam. “Hy sal vir die volgende ses weke in gips wees, waarna hy ongeveer twee jaar nag- en dagspanstukke sal moet dra, asook fisioterapie moet ondergaan. Stratum Benefits het aangebied om die hele hospitaalrekening te vereffen, en ons sal al die ekstra geld wat ingesamel is, vir sy nasorg aanwend. Baie dankie vir elkeen se hulp en ondersteuning en ook aan dokters Peter Ojwang en Andrew Jacobs, wat bereid was om ‘n verskil aan ‘n kind se lewe te maak,” het sy gesê.
Tytan se ouma het oorspronklik vir Leoni Bekker, die eienaar van Die Windpompie by Laerskool Florida gevra of hulle bereid sou wees om haar te help om geld vir die operasie in te samel. “Dit sou ongeveer R35 000 beloop, en toe sy vir my vra of sy dalk kolwyntjies by die kafeteria mag verkoop, het ek dadelik gedink daar moet ‘n ander manier wees. Ek en my man Attie het aan die werk gespring om die geld te help insamel. Dit was vir my ‘n belewenis om te sien hoe ‘n gemeenskap nog kan saamstaan. Elke familielid, vriend, maatskappy en instansie vir wie ek Tytan se storie vertel het, was meer as gewillig om hul harte en beursies oop te maak. So kan ek vandag hier staan en sê, 50 dae nadat ons met die projek begin het, het ons ons doel bereik,” het Leoni gesê.
Die Honour Wrestling Association (HWA) het ook ingespring en ‘n vertoning gereël, waarmee hulle ‘n redelike bedrag vir Tytan ingesamel het.
Maar, die bydrae wat almal se hartsnare geroer het, was dié van Tytan se beste vriend, die 10-jarige Devin Kok. Hy het nie net van sy sakgeld vir Tytan geskenk nie, maar ook lootjielyste gemaak, en sy kerk genader vir ‘n donasie. Hy het ongeveer R6 000 ingesamel, en kon nie genoeg glimlag terwyl hy na sy beste maat se gipsvoete kyk nie. “Een van die dae kan ons weer lekker saam hardloop en krieket speel,” het Devin gesê.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



