Karateka het ‘n droomjaar ervaar
Matuschka se harde werk en deursettingsvermoë beloon
“Matuschka is toegewyd en oefen baie hard. En ek glo dat harde werk altyd beloon word,” het sensei Wendy Wannenburg gesê.
Die 16-jarige Matuschka de Jager, wat al vir die afgelope ses jaar by die Horizon Karate Centre oefen, het ‘n droomjaar beleef. Sy het nie net Gauteng-kleure in kata en kumite verwerf nie, maar ook Suid-Afrikaanse JKA-kleure vir kumite. Sy het daarby haar eerste Dan-gradering suksesvol voltooi.Matuschka het gekwalifiseer vir deelname aan die 14 Funakoshi Gichin Cup JKA Wêreldkampioenskappe wat in Limerick, Ierland plaasgevind het. Alhoewel sy in die tweede rondte uitgeval het, was dit vir haar ‘n ongelooflike ervaring.
“Om in Ierland te kon deelneem was wonderlik! Die kwaliteit van die karate tydens die kampioenskappe was baie goed,” het sy gesê.”
Wat die ervaring nog meer spesiaal gemaak het, is die feit dat sy haar 16de verjaardag in Ierland gevier het. Haar pa, Jakes de Jager het so daarvan vertel: “As geskenk het ons vir haar ‘n Puma-horlosie gekoop wat ons laat grafeer het. Ons het dit saam met sensei Wendy gestuur. Die reisagentskap het ook gereël dat Matuschka ‘n verjaarsdagkoek kry, en sy het vir ons gesê dat die koek so groot was, die hele SA-span kon daarvan eet! Sy was baie verbaas toe sensei Wendy haar eenkant toe roep en ons geskenk vir haar gee.”

Hy het bygevoeg dat haar besluit om karate as sport te beoefen, ‘n groot verrassing was. “Sy het een middag van die skool af gekom, en ons ingelig dat sy nou karate gaan doen, en so was dit toe. Sy oefen vier uur ‘n week by die karatesentrum, en oefen ook by die huis. Voor kampioenskappe en graderings oefen hulle ook soms op Saterdae,” het Jakes gesê.
Jakes het gesê dat hy nooit kon verstaan hoekom ouers, wanneer hulle kinders SA-kleure ontvang, altyd so emosioneel is nie, totdat sy dogter dit bereik het. “Ek het altyd na die ouers gekyk wat trane in hul oë gekry het, en gewonder of dit regtig so is. Maar, toe Matuschka haar SA-kleure verwerf het, het ek besef wat trots regtig is, en die trane het ook maar in my oë opgewel,” het hy met ‘n glimlag vertel.
Alhoewel hulle ontsaglik trots is op Matuschka en die prestasies wat sy gedurende die jaar behaal het, glo hy dat sy dit nie sonder die hulp van sensei Wendy en die lede by die klub kon reg kry nie.
“Hulle is soos ‘n hegte familie wat altyd na mekaar omsien,” het hy gesê.
Vir Matuschka is karate nie nét ‘n sport nie, maar ‘n leefstyl. “Vroue word as die swakker geslag beskou, wat daartoe lei dat hulle maklike teikens word. Karate help my om myself te kan beskerm.”Sy glo dat haar sukses aan harde oefening en deursettingsvermoë te danke is, en haar boodskap aan elkeen wat daarvan droom om te presteer is eenvoudig, “As jy hard werk en regtig wil, sal jy altyd jou einddoel bereik. En, al misluk jy, moet jy nooit opgee nie maar opstaan, en aanhou totdat jy weer bo uitkom.”
Matuschka is nie net ‘n uitblinker in karate nie, maar is ook deel van die Gauteng-Wes-jukskeispan, speel netbal en neem gereeld aan atletiek deel.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



