Jong danser droom om in Kroasië te dans
Dané het gekwalifiseer om Suid-Afrika in Kroasië te verteenwoordig
“Ek is ongelooflik trots op Dané, en my bors staan ver uit,” het Mariëtte Bico gesê.
Haar dogter, Dané Bico, het by die afgelope DanceStar SA nasionale kampioenskappe wat in Pretoria plaasgevind het, gekwalifiseer om Suid-Afrika in Kroasië te verteenwoordig. Sy is ‘n lid van die Fusion Dance International-ateljee.
Tydens hierdie kompetisie het die 13-jarige Dané saam met haar groep, Funky Femmes ‘n bronsmedalje verower. Die jong tiener het vertel dat sy in ekstase was toe sy gehoor het dat sy gekwalifiseer het. “Ek kon nie glo dat ek gekwalifiseer het nie, dit is nog soos ‘n droom! Ek is baie opgewonde om Kroasië toe te gaan, en die enigste ding waaroor ek so effens senuagtig is, is die vliegtuigrit, want ek was nog nooit in ‘n vliegtuig nie!”
Die World Dance Masters-kampioenskappe vind aanstaande jaar van 17 tot 29 Mei in Porec in Kroasië plaas, en volgens Mariëtte gaan dit hulle ongeveer R45 000 kos om te kan gaan. “Omdat Dané nog onder 18 is, kan sy nie alleen gaan nie, en ek sal saam met haar gaan. Die R45 000 sluit dan alles vir ons altwee in,” het sy gesê.
Mariëtte het bygevoeg dat, alhoewel hulle bitter graag vir Dané die geleentheid wil gee om te gaan deelneem, hulle nie self die volle bedrag kan bybring nie. “Ons sal so dankbaar wees as iemand ons kan borg of kan help met donasies. Vir Dané is dit ‘n eenmaal-in-‘n-leeftyd geleentheid want, alhoewel sy sal aanhou dans, weet mens nie of sy weer sal kwalifiseer nie,” het Mariëtte gesê.
Sy het genoem dat hulle vir hul borge en donateurs blootstelling gedurende die kompetisie kan gee. “Ons mag ongelukkig niks anders op die sweetpakke laat borduur nie maar Dané sal ‘n T-hemp of lyfband/ serp (sash) tydens die kompetisie dra waarop haar borge en donateurs se name verskyn,” het sy vertel.
Dané het gedurende die jaar ook die volgende prestasies behaal:
• Gouemedalje by die Gauteng Dance Fest by die Roodepoort Teater
• Silwermedalje by die Gauteng Dance Nova, ook by die Roodepoort Teater
• Gouemedalje, asook Suid-Afrikaanse kleure verlede jaar by die Dance Masters-kampioenskappe in Pretoria
Vir meer inligting, skakel Mariëtte by 061 670 0739.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



