Ons Huis se kermis is om die draai
Ondersteuning gevra vir dié fondsinsamelingsprojek
Die inwoners en personeel van Residentia Ons Huis nooi die publiek om saam met hulle te kom kermis hou.
Die kermis sal op 2 September by Ons Huis, Madelinestraat 110, Florida vanaf 10vm plaasvind.
Dié jaarlikse gebeurtenis is ‘n baie belangrike een op die Ons Huis-kalender, aangesien dit as ‘n fondsinsamelingsprojek dien. “Ons wil graag vir ons bejaarde inwoners ‘n rustige en vreugdevolle oudag verseker, dus sal al die gelde wat met die kermis ingesamel word, gebruik word om ‘n aantal van ons die staatspensioenarisse finansieel te help aan, omdat dit vir baie van hul familielede moeilik is om finansiële bydraes te gee,” het Marita van den Berg, die tehuis se bestuurder gesê.
Sy het bygevoeg dat hulle verskeie heerlikhede vir die dag beplan, maar om te verseker dat die kermis suksesvol is, het hulle die hulp van die publiek nodig. “Graag vra ons vir enige donasies en bydraes vir maalvleis, skenkels, hoender, eiers, meel, margarien (botter), rys ensovoorts. Enige finansiële bydrae sal ook waardeer word,” het sy gesê.
Die dag beloof om pret vir oud en jonk te wees en daar sal vetkoek, kerrie-en-rys, pannekoek, worsbroodjies en ‘n teetuin wees. Besoekers sal ook met heerlike musiek vermaak word terwyl hulle speletjies soos tombola kan geniet.
Daar is nie van die kinders vergeet nie, en hulle sal verskeie speletjies kan speel asook hulself gate uit op die springkasteel kan geniet. “Al hierdie aktiwiteite sal onder toesig plaasvind,” het Marita gesê.
Geen kermis sal volmaak wees sonder ‘n wit olifanttafel nie, en enige ornamente en glasware wat nie meer gebruik word nie, sal verwelkom word.“Ons versoek dat enige finansiële donasies in die tehuis se bankrekening inbetaal word en dat daar duidelik aangedui sal word dat dit vir die kermis-fondsinsameling is,” het Marita gesê.
Die bankbesonderhede is:
ONS HUIS
ABSA Bank, Florida
Tjekrekening
Rekening nommer: 570143530
Takkode: 630-341
“Enige bydraes sal opreg waardeer word,” het sy afgesluit.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



