Eerste toernooi vir stoeigimnasium
"Hierdie is die eerste Wesrand Challenge nadat dit voorheen die Welpie Challenge was"
Die Witpoortjie Ontspanningsentrum was gevul met opgewonde, maar tog ook effens senuagtige stoeiers van alle ouderdomme wat nie kon wag om die dag se verrigtinge te begin nie.
Die Wesrand Stoei Gimnasium het hul heel eerste toernooi by die sentrum op 29 Julie aangebied, en die voorsitter van die gimnasium, Morné Maree, was positief dat daar nog vele meer sal wees. “Hierdie is die eerste Wesrand Challenge nadat dit voorheen die Welpie Challenge was. Ongeveer tien verskillende klubs neem vandag hier deel, en ons stoeiers verskyn ook vir die eerste keer in hul nuwe stoei-uitrustings op die mat,” het hy gesê.

Daar was ongeveer 96 inskrywings van alle ouderdomme (van vier jaar tot seniors) en oud en jonk het die dag geniet. Die toernooi is deur twee van die jongste stoeiertjies, Joshua van Rheede van Oudsthoorn en Tiaan Haman geopen wat hul stoeivernuf, tot groot vermaak van die toeskouers, demonstreer het. Hulle het elkeen ‘n medalje en ‘n trofee ontvang.

Morné het die klub se nuutste Suid-Afrikaanse kampioen aan die Record voorgestel. Marco Maree het sy SA-kleure in Vrystyl tydens die Presidente-kampioenskappe verwerf en is in die SA-skolespan ingesluit.
“Ons hoop en glo die toernooi gaan ‘n groot sukses wees en dat ons nog meer sulkes sal kan aanbied.
Ons wil ook net vir die stad dankie sê vir die opknappings wat reeds aan die saal gedoen is, en ook vir dié wat hulle nog gaan doen. Dit het verseker dat ons vandag die toernooi by ons eie klub kon hou. Dit verseker ook dat ons kan voortbou en ons 20-jarige bestaan volgende jaar in styl sal kan vier,” het hy afgesluit.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



