“Ek het by al die reddingsorganisasies aangeklop vir hulp, maar almal is vol. Ek is desperaat om die twee honde ‘n tweede kans te bied.”
Dit is die woorde van Samantha Weyers, wat op 12 Maart twee rondloperhonde in Ontdekkerspark opgelaai het om hulle van ‘n lewe op die straat te red. “Ek en ‘n ander vrou het die twee honde in die straat in die area tussen Ontdekkers- en Christiaan de Wetweg naby Schuttestraat sien rondloop. Ons het hulle in die motor gelaai en veearts toe geneem. Hulle was oortrek met bosluise en vlooie, en hul hare moes kort geskeer word,” het Samantha vertel.
Volgens haar was die tefie ondervoed en baie maer, en het dit gelyk of sy onlangs ‘n werpsel gehad het. “Ek haar vyf maal ‘n dag kos gegee om haar te laat gewig optel en sy lyk reeds baie beter,” het Samantha gesê.

Sy het vertel dat sy die honde Bonnie en Clyde gedoop het, en dat hulle albei baie vriendelik, liefdevol en nog jonk is. “Ek skat die tefie is tussen twee en drie jaar oud en die reun ongeveer twee jaar. Hulle is baie geheg aan mekaar en wil die heeltyd saam wees. Volgens die veearts is hulle mediumgrootte honde en kruisings wat Chow en Husky insluit,” het sy gesê.
Samantha het alles in haar vermoë gedoen om die honde se eienaars op te spoor of hulle in veilige sorg te plaas, aangesien sy – weens omstandighede – nie die honde kan hou nie. “Ek het Friends of Rescued Animals (Fora), Paws R Us SA, Woodrock, 4-Paws en Community Led Animal Welfare (Claw) gekontak, maar almal het vir my gesê hulle is propvol en kan nie nog honde inneem nie,” het sy hartseer vertel. Sy het ook in verskeie areas plakkate laat opsit in ‘n poging om die eienaars op te spoor, maar sonder sukses.
Samantha woon in ‘n kompleks waar die reëls bepaal dat sy nie twee groot honde mag aanhou nie, en daar is reeds vir haar gesê dat sy ander plan moet maak. “Ek is baie desperaat om ‘n liefdevolle huis vir die twee te kry want ek glo hulle verdien ‘n tweede kans. Paws R Us SA het aangebied om die twee honde teen ‘n laer tarief te steriliseer en ek sal ook sorg dat hul inentings op datum is. Hulle ontwurming is reeds gedoen. Ek wil dit so maklik as moontlik vir die nuwe eienaars maak,” het sy gesê.
Samantha kan gekontak word by 072 992 9709 of weyerssam@gmail.com.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!




One Comment