Sopkombuis voorsien meer as net voedsel vir die liggaam
Fred en Martie se Sopkombuis benodig die dienste van afgetrede onderwysers
Hulle sorg nie net al 40 jaar lank dat honger magies gevul word nie. Fred en Martie se Sopkombuis voorsien ook voedsel vir die siel.
Riaan en Yolindie Oberholzer bestuur die afgelope agt jaar die sopkombuis na die afsterwe van haar pa, en voorsien kos vir mense in Newlands, Westbury, Newclare, Claremont en ook Randfontein.
Yolindie het vertel dat die sopkombuis op die sypaadjie voor haar ouers se huis in Claremont ontstaan het. “My ma het ‘n behoefte in die gemeenskap geïdentifiseer en het begin om na skool vir die kinders kos te gee. Die eerste dag was daar 50 kinders, die volgende dag 150 en daarna moes die Verkeersafdeling die pad voor hul huis toemaak as gevolg van die groot hoeveelheid kinders wat opgedaag het,” het sy gesé.
Die sopkombuis voorsien nie net maaltye aan die gemeenskap nie, maar bied ook baie ander dienste, soos om kinders met hul huiswerk te help, projekte wat die gemeenskap toegang tot klere en ander huishoudelike benodigdhede gee, voorsiening van toiletware, skoolklere ensovoorts. Hulle het ook hul eie gemeenskapsgroentetuin en ‘n padveiligheidsprojek.
“Ons het tans ‘n groot behoefte aan afgetrede onderwysers – of ander bekwame persone – wat ons kan help om ons mammas in die gemeenskap te leer lees,” het Yolindie gesê.
Volgens haar, voel die ma’s nutteloos omdat hulle nie hul kinders met huiswerk en ander skooltake kan help nie. “Hulle kan nie eers die Bybel lees nie,” het sy hartseer gesê,
Hulle sal dit waardeer as daar iemand is wat bereid sal wees om hulle tyd op te offer om hulle in dié verband te help. Sou jy kan help, kontak vir Yolindie by 082 854 6904, 082 786 8517 of stuur ‘n epos aan riaan.yolindie@gmail.com.
Sy het afgesluit met die gedagte, “Kan jy jou indink hoe dit sou wees as jy nie die woorde in hierdie artikel kon lees nie?”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



