Oudisies nog oop vir Fiela se Benjamin
Die perfekte Benjamin nog nie vir Fiela-produksie gevind nie
Lefra Produksies is nog op soek na die perfekte akteur om die rol van Fiela se seun, Benjamin Komoetie te vertolk. As jy voel dié rol is vir jou, lees verder.
Lefra Produksies beplan om weer volgende jaar ‘n verhoogproduksie van Fiela se Kind (geskryf deur Dalene Matthee) aan te bied. Hierdie produksie sal die derde een wees wat Lefra aanbied. Die vorige teaterproduksies was baie gewild en was weke vooruit uitverkoop. Volgens Frans Swart, die regisseur en vervaardiger van Fiela se Kind is hy baie opgewonde om na die bos toe terug gaan en die storie van Fiela te vertel. “As mens ‘n goeie storie het, is dit soveel makliker om ‘n sukses daarvan op die verhoog te maak. Ons is veral opgewonde omdat hierdie produksie by die Stellenbosch Woordfees première. Dit gaan ook by die baie suksesvolle Oppiwater Kunstefees te sien wees,” het Frans vertel.
Frans het gesê dat meer as 150 seuns reeds vir die rol van Benjamin/ Lukas oudisies gedoen het. “Ons het egter nog nie die presiese Benjamin/ Lukas gevind nie. Al die seuns wat ons reeds gesien het, het wonderlike talent, maar die outjie wat hierdie rol kry, moet sekere eienskappe hê. Ek weet dat die perfekte Benjamin/ Lukas êrens in Suid-Afrika skuil. Ons sal weet as dit die regte een is. Die seun moet tussen 10 en 14 jaar oud wees, afhangende van sy liggaamsbou. Benjamin is ‘n plaasseun wat vir Fiela die volstruise aanjaag en lekker kattekwaad aanvang. Hy sal eerder met sy selfgemaakte houtskuitjie op die dam speel as om die volstruise op te pas. Benjamin ervaar dan erge trauma, want hy word summier van sy ‘ma’ af weggevat en moet skielik onder haglike omstandighede in die bos Lukas van Rooyen wees. Juis daarom kyk ons na ‘n seun wat ook daardie innerlike vertolking kan bied,” het hy gesê.
Ander rolle waarvoor daar ook nog oudisies gehou gaan word:
– Benjamin (kind) – Wit seun tussen 10 en 14 jaar oud
– Nina (kind) – Wit dogter tussen 10 en 14 jaar oud
– Lange/ Magistraat/ Skoonmaker by hof/ Boswagter/ Martiens – Lang, skralerige man tussen 40 en 50 jaar oud
– Willem (Kristoffel) – Wit seun tussen 12 en 16 jaar oud
– Dawid (Tollie) – Bruin seun tussen 12 en 16 jaar oud
– Emma (Kitty) – Bruin dogter tussen 14 en 18 jaar oud
Frans is baie opgewonde omdat Shaleen Surtie-Richards – wat die eerste Fiela gespeel het – ingestem het om weer die rol te vertolk.
“Wel, dis presies 30 jaar gelede dat ek Fiela vir die eerste keer op die verhoog gespeel het. Toe regisseur Frans Swart my bel en vra of ek weer Fiela wil speel, toe dink ek so by myself … Shaleen maar dis seker nou weer tyd om jou rol as Fiela terug te neem! Na al die jare sien ek vreeslik uit om weer vir Fiela te speel en kan nie wag om weer op die verhoog te kom met hierdie lekker rol nie,” het Shaleen gesê.
Frans het gesê dat hy onder andere baie trots is op Stefan Vermaak (Villa Rosa) wat agt jaar gelede die rol van klein Benjamin vertolk het en so sy eerste tree in die vermaaklikheidswêreld gegee het. Volgens Frans is dit ‘n baie lekker rol vir enige seun wat in die teaterwese belangstel.
Alhoewel dit nie ‘n vereiste is nie, sal dit baie help as die kinders wat oudisies vir die rolle doen, reeds drama-opleiding gehad het. Belangstellendes kan hul CV’s, met ‘n onlangse foto, na die volgende eposadres stuur: admin@lefra.com. Die sluitingsdatum vir aansoeke vir oudisies is 8 Februarie om 1nm.
Vir meer inligting kontak Charl Senekal by 011 815 3000 of stuur ‘n epos na info@lefr.com.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



