MunicipalNews

Van politikus tot gemeenskapsaktivis

Willie van der Schyff verruil politiek vir die bevordering van bejaardes se belange

Na ‘n lang loopbaan in die Roodepoort Stadsraad het hy besluit om sy fokus na ‘n ander gedeelte van die gemeenskap te verskuif. Willie van der Schyf het nog altyd ‘n passie vir die gemeenskap gehad en het van 1988 tot en met 1995 as raadslid in Roodepoort gedien. Gedurende hierdie tydperk was hy ook burgemeester van Roodepoort.

Volgens Willie is die besluit om sy fokus van die politiek te verskuif, nie skielik geneem nie. “Dit was ‘n proses van om en by twee jaar. Met my betrokkenheid by die gemeenskap as raadslid het ek die behoefte raakgesien om na hulpbehoewende mense om te sien,” het hy gesê.

Vir hom is dit baie hartseer dat mense – veral bejaardes – verwaarloos word.

“Dit gebeur baie dat mense wat oorsee gaan woon, hul ouers by ‘n ouetehuis aflaai. Dan sien die ouers hulle nooit weer nie,” het hy gesê.

Hy dien tans op die Roodepoort Care of the Aged se nuwe uitvoerende komitee en hulle beoog om beter voedselvoorsiening, hulp, hospitalisasie, gesondheidsorg en talle ander dinge te prioritiseer. “Niemand fokus op hierdie dinge wat ons bejaardes raak nie, alhoewel die wetgewing en strukture daarvoor reeds in plek is,” het hy vertel.

Hy het gesê dat hul eerste fokus op die mobilisering van die gemeenskap sal wees in ‘n poging om hulle aan te moedig om beter na bejaardes om te sien. “Wat doen banke en instansies wat pensioene uitbetaal om die ervaring vir die bejaarde makliker te maak? Doen die groot kettingwinkels, soos Pick n Pay en Checkers, moeite om die bejaardes oor hul afslagdae in te lig?”

Hy voel ook dat skole betrokke kan raak by bejaardes deur byvoorbeeld die Graad 10- tot 12-leerders na ouetehuise te stuur om met die inwoners te gesels. “Hulle het ‘n groot behoefte aan geselskap en geniet dit wanneer iemand by hulle kuier en net oor alledaagse dinge gesels,” het hy gesê.

Volgens Willie het dit tyd geword om buite die kassie te dink, veral wanneer dit by bejaardesorg kom. Hy voel dat elke ouer persoon steeds ‘n groot bydrae tot die gemeenskap kan lewer. “Ons ouer mense moet nie leunstoelkritikusse wees nie. Hulle moet ‘n bron van inligting wees en hulle ervaring met veral die jonger geslag deel,” glo Willie.

Hy sluit af met die volgende boodskap aan elkeen in die gemeenskap – oud en jonk: “Ons, as gemeenskap, moet begin beheer neem en minder vinger wys. Raak betrokke en doen dit.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button