Ouma Maria vier ‘n eeu
Sy sal haar 100ste verjaarsdag saam met familie vier
Verjaarsdae is baie spesiaal, want dit beteken jy is vir nog ‘n jaar gespaar om nog avonture, geleenthede en nuwe dinge te beleef.
Vir Maria Fourie is hierdie jaar se verjaardag nie net spesiaal nie, maar ook ‘n groot mylpaal, aangesien sy haar 100ste lewensjaar vier.
Haar kleindogter, Maria Purchase het vertel dat wanneer sy aan haar ouma Maria dink, hoor sy die lirieke van Laurika Rauch se liedjie, Die Nostalgie. “Die woorde van die liedjie klink vir my soos iets wat ouma sal refrein, met ‘n paar byvoegings natuurlik!” het sy gesê.
Maria se lewensreis het op 13 Desember 1916 begin toe sy in Koedoesfontein in die Groot Marico-distrik gebore is as die tweede van 11 kinders. Sy het haar man, Chris Fourie by die plaaskool in Bronkhorstspruit ontmoet en op 12 Desember 1936 is hulle in Groot Marico getroud.
Hulle het ‘n paar keer verhuis en onder andere in Dennilton, Twyfelspoort, Mazista en Swartruggens gewoon. In 1984 het Chris en Maria by hul dogter in Florida-Noord ingetrek. Die Fouries was geseën met drie kinders – twee dogters en ‘n seun – waarvan nog net die oudste lewe.
Volgens haar kleindogter het ouma Maria haar altyd besig gehou met naaldwerk en was veral lief daarvoor om the hekel. “My mond water sommer as ek aan ouma se watertanddisse dink wat sy op die koolstoof voorberei het. Sy het vir die lekkerste brood, beskuit, ingelegde vrugte en konfyte gesorg,” het sy vertel.
Om Maria se spesiale mylpaal te vier, gaan daar op 10 Desember groot makietie gehou word by Laerskool Helderkruin. Maria is die oudste van vier oorlewende susters en sy gaan haar eeufees saam met nege kleinkinders, 11 agterkleinkinders en twee agter-agterkleinders vier – vyf geslagte saam.
Die groot vraag is nou natuurlik, wat is ouma Maria se geheim om so hoë ouderdom te bereik? Haar antwoord is baie eenvoudig,
“Harde werk, want onthou, ledigheid is die duiwel se oorkussing”.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



