Editor's choiceLocal newsNews

Motor enigste dak oor sy kop

Pensioenaris wat nie ander blyplek kan bekostig nie, bly in sy motor

‘n Pensioenaris van Florida se enigste Kerswens is dat die Here hom sal help om weer op sy voete te kom.

Johan Havies* is 69 jaar oud en bly al die afgelope jaar saam met sy twee worshondjies in sy motor in ‘n park. Sy lewe het in duie gestort toe hy sy werk as versekeringsmakelaar – en daarmee saam sy huis en besittings – verloor het weens persoonlike omstandighede. Hy moes al sy polisse, wat vir sy pensioen sou sorg, kanselleer om aan die lewe te bly. Daarna was hy vir ‘n jaar lank werkloos voordat hy weer werk by ‘n paneelklopper in Pinetown gekry het.

“Ek het daar begin werk en het letterlik iets van alles gedoen – van skottelgoed was tot tuinwerk,” het Johan gesê.

Toe Johan 65 jaar oud geword het, het die maatskappybestuur vir hom gesê dat hy nie meer daar kan werk nie, hy moet aftree. Hy is terug Gauteng toe, en het vreeslik gesukkel om weer voltydse werk te kry om aan die lewe te bly. “Maar, die onvermydelike het weer gebeur en ek het my huis en besittings vir ‘n tweede keer verloor,” het ‘n emosionele Johan vertel.

Sy enigste uitweg was om in ‘n park in sy motor te bly. Johan werk op die oomblik by ‘n maatskappy in Florida waar hy help met binnehuisversiering en houtwerk, maar sy salaris is nie baie groot nie. Hy werk van Maandag tot Vrydag en party Saterdae. “Ek kry net ‘n staatspensioen en saam met my salaris is dit nie genoeg om ‘n kamer te huur en kos te koop vir my en die hondjies nie,” het hy gesê.

Vir Johan is die situasie waarin hy hom bevind ‘n verleentheid en hy vra nie aalmoese nie. “Ek is bereid om enige werk te doen, en kan hard werk. Ek hou daarvan om met my hande te werk en kan ook tuinwerk doen. Al wat ek vra is ‘n voltydse werk en ‘n blyplekkie wat ek kan bekostig sodat ek weer my menswaardigheid kan terugkry,” het Johan gesê.

Volgens Johan is hy al aangeval deur iemand wat sy motor wou steel. “Ek is baie bang vir die vakansietydperk wat om die draai is, want dit is die tyd wanneer aanrandings en baie ander gewelddadige dinge met mense gebeur,” het hy gesê.

Indien daar iemand is wat vir Johan kan bystaan in sy tyd van nood, kan hulle hom kontak by 076 322 0019.

*Nie sy regte naam nie.

Lees meer hier:

Haven for homeless or den of inequity?

Homeless man found dead at Witpoortjie station

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button