Syfers is hul maats en hulle het nie nodig om hulle vingers (of tone) te gebruik om optel, aftrek, maal en deelsomme kaf te draf nie.
Twee leerlinge van Laerskool Dr Havinga, Deidré van der Merwe (Graad 6) en JC Roux (Graad 5) het onlangs aan die Global Association of Japanese Soroban and Mental Arithmetic (GAJSMA) Wêreldkampioenskappe in Singapoer deelgeneem. Suid-Afrika was een van 10 lande wat daar verteenwoordig was.

Die twee Havies het albei op Vlak 7 deelgeneem. JC was die Super Championship-wenner, wat beteken hy het as wêreldkampioen weggestap. Deidré is as die Champion aangewys – met ‘n plek in die top 10-persent van die vlak. Volgens Deidré kon sy nie haar ore glo toe hulle haar naam uitgeroep het nie. Sy het gesê sy was stomgeslaan.
JC het met Abacus Maths begin toe hy vyf jaar oud was. Hy het laasjaar aan die kampioenskappe in Indië deelgeneem waar hy ‘n tweede plek behaal het en sodoende gekwalifiseer het om vanjaar in Singapoer deel te neem. Hy het ook vroeër in die jaar aan ‘n internasionale oefenkamp (boot camp) in Japan deelgeneem waar hy in die twee afdelings – Soroban (abakus) en Anzan (hoofrekene) – op Vlak 6 en 7 gegradueer het.
Volgens JC se ma, Luitha Roux, was hy goed gefokus en het ontsettend hard geoefen om vir Singapoer voor te berei.
“Hy was vasberade om in 2016 die wêreldkampioen te word en hy het dit reggekry. Ons is ongelooflik trots op hom!” het sy gesê.
Alhoewel Deidré laasjaar ook gekwalifiseer het om in Indië deel te neem, kon sy ongelukkig nie gaan nie. Singapoer was haar eerste internasionale deelname. “Dit was vir my lekker om oorsee deel te neem en die verskillende plekke saam met my ouers te beleef. Die kompetisie het my ‘n bietjie op my senuwees gehad, maar dit was ‘n ondervinding wat ek altyd sal onthou. Ek doen al Mental Maths vandat ek ses jaar oud is, en het al 10 trofeë verower,” het Deidré gesê.

Lorraine van der Merwe, Deidré se ma het vertel dat hulle ‘n uitnodiging ontvang het om ‘n abakusdemonstrasie in Houghton te gaan doen. “Deidré het die demonstrasie baie goed hanteer en ons sommer baie trots gemaak! Dit is lekker om die vrugte van al ons harde werk te kan sien,” het Lorraine gesê. Volgens Deidré was die demonstrasie vir haar nogal senutergend, want die volwassenes se oë was net op haar. “Ek kon die somme in die gegewe tyd klaarmaak en almal het vir my hande geklap en gesê ek is baie slim,” het sy skamerig vertel.
Altwee die leerlinge het gekwalifiseer om volgende jaar aan die kampioenskappe in Bangkok, Thailand te gaan deelneem.
Lees ook
‘Ja juffrou’- Graad een by Laerskool Dr Havenga



