Een van Witpoortjie se bekendste gesigte gaan vir ‘n rukkie nie in die omgewing te sien wees nie.
Pieter (Pietertjie) Erasmus word gereeld by onder andere die Witpoortjie Mediese Sentrum in McGrathstraat en by Pick n Pay opgemerk waar hy motors oppas. Hy het altyd ‘n vriendelike woordjie vir almal en knoop graag ‘n geselsie aan.
Pieter het onlangs ‘n nare ervaring by Idols gehad toe hy in die parkeerarea aan ‘n stukkie brood verstik het. Van die mense wat buite was, het gesien daar is fout en ‘n man het nader gehardloop en die stukkie brood uit sy keel gekry. Pietertjie het toe stuiptrekkings begin kry, en in die proses sy knie erg beseer en sy heup baie sleg gebreek.
Pieter is na die Netcare Krugersdorp Hospitaal geneem, waar hy dadelik opgeneem is. Die dokter het vir Pieter se suster, Meisie Stander, gesê hulle sal so gou as moontlik moet opereer anders gaan die heup nie herstel nie. “Dit was vir my ‘n baie moeilike besluit want Pieter het ‘n hartprobleem en is allergies vir narkose. Die operasie kan lewensgevaarlik vir hom wees,” het Meisie gesê.
Meisie sorg al 22 jaar vir Pieter, wat op 13-jarige ouderdom breinskade in ‘n ongeluk opgedoen het. Hy het ook ‘n voetgebrek. “Ek weet nie wat ek sal doen as hy iets moet oorkom nie, ” het sy gesê.
Meisie het nou laat weet dat die operasie suksesvol was en dat Pieter op die herstelpad is. Sy sê dankie vir almal by Idols, veral die man wat hom gehelp het toe hy gestik het, vir hulle hulp. Sy is ook baie dankbaar dat haar vriendin, Dianne, hom in haar motor hospitaal toe geneem het toe die ambulans na ‘n uur nog nie opgedaag het nie.
“Baie dankie vir almal se SMS’e en boodskappe vir Pieter. Hy gaan nog ‘n lang ruk in die hospitaal wees, want hy kan nie loop voordat die heup nie reg is nie.
Hy gaan ‘n loopraam kry sodra hy ontslaan word, en ek sal sorg dat hy nie meer rondloop nie,” het Meisie gesê.
Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at roodepoortrecord@caxton.co.za (remember to include your contact details) or phone us on 011 955 1130.
For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites Randfontein Herald, Krugersdorp News and Get It Joburg West Magazine
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!



