Liefde en omgee skep veilige hawe
Hier word die kinders met liefde en omgee omvou
Met die intrapslag by Angel’s Place in Discovery word jy begroet deur opgewonde kinderstemme en klokhelder laggies.
Daar woon tans agt kinders in die huis en hulle ouderdomme wissel van 18 maande tot 13 jaar. Hulle het ouers maar hul huislike omstandighede is van so ‘n aard dat maatskaplike dienste betrokke geraak het. Almal is op grond van ‘n hofbevel uit hul ouerhuise verwyder en in die sorg van Angel’s Place geplaas. Die niewinsgewende organisasie bestaan al ongeveer nege jaar.

Cisca Bartmann, die bestuurder van die huis het vertel dat al die kinders al baie seergekry het en intense verwerping ervaar het. “Daar was gevalle van mishandeling, verwaarlosing, ouers wat hul werk verloor het en selfs dwelmmisbruik. Die ouers word ‘n sekere tyd toegelaat om hulself te rehabiliteer, waarna die maatskaplike werker en die hof weer die omstandighede evalueer. Sou hulle tevrede wees, kan die kinders soms weer teruggaan na hul ouers toe.” Die ouers kry ook geleentheid om vir die kinders te kom kuier, hetsy weekliks of twee maal ‘n maand.
“Van die kinders gaan nooit weer terug na hul ouers toe nie en bly by ons tot hul 18e verjaardag,” het sy gesê.
Ciska beskryf die huis as ‘n veilige hawe vir die kinders. “Dit is baie belangrik dat hulle identiteit en privaatheid te alle tye beskerm word.” Sy het met ‘n glimlag vertel dat die huis soos ‘n normale huishouding bestuur word, maar met agt kinders onder dieselfde dak kan dit party dae nogal moeilik gaan. “Hulle baklei maar ook onder mekaar en ons probeer om hulle in ‘n roetine te hou. Daar is ‘n sekere tyd vir bad en televisie kyk, en hulle sit elke aand om die tafel en eet saam aandete,” het Cisca vertel.

Baie van die kinders wil vreeslik graag aan buitemuurse aktiwiteite deelneem, maar aangesien hulle net een bussie het, is dit nie moontlik nie. “Enigiemand wat bereid sal wees om na ons toe te kom om sang- of klavierlesse te kom aanbied, kan my kontak en ons sal kyk of die maatskaplike werkster dit sal goedkeur,” het sy gesê.
Die huis het ‘n maatskaplike werkster wat na die belange van die kinders omsien, twee geregistreerde versorgers asook ‘n onderwyseres wat van Maandag tot Donderdag vir ongeveer twee uur smiddae die kinders met hul huiswerk kom help.

Staatshulp is minimaal en hulle maak baie op donasies en fondsinsamelings staat. “Soos enige normaal funksionerende huis het ons ook Domestos, chloor en kos nodig. Ons waardeer enige donasie – groot of klein – en elke oproep is vir ons belangrik,” het Cisca vertel. Volgens haar het hulle ‘n groot behoefte aan onder andere, kos, skoonmaakmiddels, klere (skoolklere ook), skoolskoene en skryfbenodigdhede vir die nuwe skooljaar wat om die draai is. “Ek verstaan mense is maar skrikkerig om net ‘n donasie aan ‘n welsynsorganisasie te gee. Ons het ‘n boek waarin elke donasie opgeskryf word en ons gee ook belastingsertifikate om jou donasie te bevestig. As iemand wil bydra tot die water- en elektrisiteitsrekening is hulle welkom om eenhede te koop en vir ons die PIN of bewys aan te stuur.”
“Ons probeer hard om iets vir die kinders te gee wat hulle by ‘n ma en pa sou kry, soos leer kosmaak, bak en brou in die kombuis, hare en grimering doen, ensovoorts. Ek wil graag hê hulle moet as afgeronde mense hier uitstap,” het Cisca vertel.
Vir meer inligting of om ‘n donasie aan Angel’s Place te gee, kontak vir Cisca by 082 705 2478 of besoek hulle Facebook-blad Angel’s Place Foster Care.
*Die kinders mag nie geïdentifiseer word nie.
Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at roodepoortrecord@caxton.co.za (remember to include your contact details) or phone us on 011 955 1130.
For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites Randfontein Herald, Krugersdorp News and Get It Joburg West Magazine
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!



