Verfris jou siel in die tuin
Kuns in die Tuin stal 17 kunstenaars se werke uit.
“Daar is soveel tyd en drome wat in kuns ingaan. Jy los altyd ‘n stukkie van jou siel in elke skildery wat jy verf,” het Annamarie Heuser, die stigter van Kuns in die Tuin verduidelik.
Elke paadjie in haar tuin lei na ‘n ander kunswerk.
Daar is mosaïek, houtwerk, juweliersware, skilderye en pottebakkery te kies en te keur.
Daar is ook ‘n hoekie waar jy op ‘n stoel kan sit terwyl ‘n hanswors jou portret verf.
Dit is die doel van Kuns in die Tuin – om ‘n geleentheid te skep waar jy kan ontspan terwyl jy die werke van plaaslike kunstenaars geniet.
Annamarie het nog altyd gedroom om haar tuin in ‘n opelugkunsgalery te omskep. Nadat haar kinders uit die huis is, het sy haar tuin begin ontwikkel.
“Elke paadjie in die tuin het ‘n naam. Ek wil ‘kamers’ in die tuin skep waar jy rustig kan wees.
Elke kamer sal sy eie identiteit hê deur een of ander kunsvorm uit te beeld,” het sy vertel.
Sy het haar broer, Wouter Coetsee, genader met die idee van Kuns in die Tuin en hulle het in 2013 hul eerste uitstalling gehou.
Dit was aanvanklik net haar eie groepie mense wat betrokke was, maar met elke uitstalling daarna het dit gegroei en meer kunstenaars het betrokke geraak.
Die uitstalling op 6 Augustus was hulle 10de en 17 kunstenaars het hul werke uitgestal.
“Mense ry Harties toe om hierdie tipe goed (handgemaakte items, skilderye ensovoorts) te sien. Hulle besef nie hier is so iets naby hulle nie. My doel is om Kuns in die Tuin te ontwikkel sodat dit op almal se lippe sal wees,” het Annamarie gesê.
Sy het vertel dat hulle probeer om kunsgalerye as middelmanne uit te skakel deur die plaaslike kunstenaars en kunsskole die geleentheid te gee om hulle werke uit te stal en teen billike pryse te bemark.
Hulle moedig ook skoliere en kunstenaars wat nie op ‘n ander manier hulle werke kan bemark nie, aan om by die geleenthede betrokke te raak.
Daar is ook ‘n teetuin waar besoekers koffie of tee saam met ‘n snytjie koek kan geniet. “Mense kuier heeldag in die teetuin. Ons kry selfs besoekers van ouetehuise en kerkgroepe wat net lekker kom sit en gesels,” het sy geskerts.
Kuns in die Tuin-uitstallings word vier keer ‘n jaar aangebied, een vir elke seisoen.
Die volgende uitstalling word op 4 November in die vorm van ‘n Kersmark aangebied.
Indien jy belangstel om een van die geleenthede by te woon of om as plaaslike kunstenaar betrokke te raak, kontak Annamarie by 082 480 5248.
Kuns in die Tuin het ook ‘n Facebook-blad waar meer inligting beskikbaar is.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Lees ook:
Kuns in die tuin oortref verwagtinge
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!












