Local newsNews

5-jarige laat lokke sny vir Cansa

Cansa is nog 'n (baie jong) ondersteuner ryker.

Vyf-jarige snip, Megan de Beer het besluit haar lokke kan deur die Kankervereniging (Cansa) beter aangewend word.

Sy het vir omtrent twee maande aan haar ouers gekarring dat sy ‘n nuwe kapsel kan kry en die lokke kan skenk. Hulle het nie ‘n idee waar die inspirasie vir dié blink idee vandaan kon kom nie. Mamma Cilla was glad nie beïndruk met haar jongste se voorstel nie en was daarteen gekant. Megan het immers pragtige lang, goue hare gehad.

“Ek het my vrou gerus gestel en het geglo dit is een van daardie idees wat ‘n kleintjie sommer gou weer van sal vergeet,” het Pappa Francois verduidelik.

“Ons kon nie verstaan waar die idee gespruit het nie — sy het letterlik net eendag opgestaan en ons in kennis gestel van haar besluit.”

Na die karring nie wou end kry nie, het Cilla maar vrede gemaak daarmee en Megan is oor die naweek na ‘n haarkapper geneem. In die stoel is haar hare in ‘n lang vlegsel gebind, afgebind aan die boonste end en summier afgeknip.

Haar ouers het pragtige foto’s geneem waar sy breed glimlag met die vlegsel in haar hande.

Vir die Record het Megan eenvoudig gesê, “Ek het net aan kanker gedink.”

Cilla het vroeër vanmiddag (Dinsdag 24 Mei) gou na Cansa Wes Rand deurgery om die vlegsel te oorhandig.

Ouer sussie Kayla, 11, het alreeds ‘n kort haarstyl. Megan is in Graad R by Laerskool Roodekrans.

Volgens Corrie Botes van Cansa kan ‘n poniestert van tussend 22 en 25cm geskenk word aan die vereniging. Met dié hare word daar dan pruike gemaak vir kankerlyers. Ongelukkig kan hulle nie korter hare aanvaar of gebruik nie. Inwoners kan privaat laat sny en die hare op ‘n latere stadium skenk, solank dit in ‘n poniestert of vlegsel gebind is en droog is.

Vir verdere inligting of om betrokke te raak skakel Cansa Wes Rand by 011 768 4342.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button