Latest SportSport

Raiders-steel-Poorte-glorie-gerug onwaar

GLRU sê hoe sake staan.

Gerugte dat Raiders se eersterugbyspan by die agterdeur sou kon inglip en moontlik Poorte se Pirates-glorie gaps is beslis net dit – ‘n gerug.

Volgens ‘n betroubare bron van die Record het die Universiteit van Johannesburg (UJ) tydens hul kragmeting met Raiders glo ‘n speler op die veld gehad wat die vorige week ‘n rooikaart gekry het.

UJ het die wedstryd met 26-11 gewen maar Raiders het glo aanbeveel dat hulle (Raiders) eerder die span moet wees wat met die vyf punte wegstap omdat UJ ‘n reël oortree het.

Dit sou Raiders na 35 ligapunte laat opskuif en die Pirates-trofee omhoog hou indien hulle Poorte dié naweek klop. Maar volgens die Goue Leeus Rugby Unie (GLRU) is dit nie hoe dinge werk nie.

As daar teen UJ opgetree sou word, sal hulle die vyf punte verbeur maar Raiders sal nie munt daaruit kan slaan nie. Hulle sal op 30 punte bly.

Pieter Visser wat in beheer van klubrugby by die GLRU staan het aan die Record verduidelik dat indien ‘n klub toelaat dat ‘n speler in stryd met die volgende reëls speel, moet daardie span vyf ligapunte prysgee:

• Affiliasie: Enige klub wat in die toekoms by die Unie geaffilieer wil wees, moet ‘n aansoekvorm in dié verband behoorlik invul en dit voor die einde van Januarie elke jaar by die Bestuurder: Klubrugby van die Unie indien.

• Kleure: Geen klub mag sy geregistreerde kleure sonder die goedkeuring van die Voorsittersraad verander nie. Voordat ‘n nuwe klub aan enige ligawedstryd mag deelneem, moet sy kleure eers by die Unie geregistreer word.

• Registrasie: Voordat iemand kan kwalifiseer om vir ‘n klub te speel, moet hy ‘n bona fide-lid van daardie klub wees en by die Unie as ‘n spelende lid van daardie klub geregistreer wees. Die registrasievorm wat die Unie voorskryf, moet deur elke speler onderteken word, en ook deur die Klubbestuurder/ Voorsitter mede-onderteken word en aan die Bestuurder: Klubrugby van die Unie gestuur word.

• Oordragte: Aansoeke om oordragte moet voor of op 28 Februarie van daardie bepaalde jaar by die Unie ingedien word.

Na 28 Februarie is die oordrag van spelers van een klub na ‘n ander onderhewig aan ‘n moratorium van ses (6) eerstespanwedstryde van enige amptelike GLRU-kompetisie (sewes uitgesluit), dit wil sê ‘n speler mag vir ses (6) liga- en/of uitklopwedstryde nie in die nuwe klub se eerstespan speel nie.

Oordragte moet op die voorgeskrewe oordragkaart by die GLRU se Bestuurder: Klubrugby ingedien word.

Na 28 Februarie moet skriftelike vertoë deur albei klubs se voorsitters en die speler aan die GLRU gerig word sodat die Uitvoerende Komitee dit kan oorweeg en goedkeur. Hierdie Komitee se beslissing sal finaal wees.

Die lid wat vir ‘n oordrag aansoek doen, moet die voorgeskrewe oordragkaart invul, die nodige magtiging by sy huidige klub kry en dit indien by die Klubbestuurder van die klub waarheen hy oorgedra wil word.

Sodra die hele oordragproses afgehandel is, moet die oordragkaart na die GLRU se kantoor gestuur word.

‘n Klub mag nie ‘n lid se oordrag om die volgende redes afkeur nie:

* Tugstappe wat nie deur die Unie bevestig is nie

* Onbetaalde ledegelde buiten dié vir die onmiddellik voorafgaande seisoen

• Dissipline: Klubspelers, amptenare en verteenwoordigers moet die sekretaris van die Dissiplinêre Komitee minstens 10 uur voor ‘n geskeduleerde tugverhoor inlig indien iemand nie daardie tugverhoor kan bywoon nie.

Related Articles

Back to top button