LettersOpinion

Huldeblyk aan Loekie

Frits van Roodepoort skryf: Die woorde staar my strak en onverbiddelik aan: Loekie geskiet en hy en Elsie ernstig aangerand en beseer deur rowers. Loekie het later gesterf. My ongeloof, woede en afgryse maak stadig plek vir intense smart en verdriet. Die Trichardts was goeie vriende wat my lewe verryk het: Loekie op sy unieke wyse altyd vol met streke …

Frits van Roodepoort skryf:

Die woorde staar my strak en onverbiddelik aan: Loekie geskiet en hy en Elsie ernstig aangerand en beseer deur rowers. Loekie het later gesterf. My ongeloof, woede en afgryse maak stadig plek vir intense smart en verdriet. Die Trichardts was goeie vriende wat my lewe verryk het: Loekie op sy unieke wyse altyd vol met streke en sy vrou, Elsie, wat wat hom ten ene male só goed verstaan en waardeer het, het saam ‘n ongelooflike standvastige eenheid gevorm wat net geweet het van liefde, hartelikheid en gasvryheid. Hoe kan ek dit ooit verwerk, vra ek myself af. Niks kan Loekie vervang nie: niemand kan sy gelyke wees nie. Maar wat ek wel kán doen ter nagedagtenis aan hom is om dié storie te vertel.

Dit was in die middel sewentigerjare. Ons en die Trichardts was huisvriende. Ek was ‘n jong advokaat was pas my praktyk aan die Johannesburgse Balie begin het. My dagboek was nou juis ‘n toonbeeld van vol bespreek wees nie: te veel blanko oop dae en geduldige wag vir opdragte.

Só kuier ons een aand by Loekie en Elsie. Ek was, net soos hulle, mal oor hulle kinders. Soos gewoonlik gesels, eet, drink en kuier ons. Net voor ons wou aanskuif huis toe raak Loekie effens ernstig, iets wat nou nie eintlik dikwels met hom gebeur het nie. Ek vra hom Nou wat is dit tog nou? Hy vertel my toe, met so ‘n sedige gesig en effense verontwaardiging, dat hy vroeër dié dag in ‘n spoedlokval op pad huis toe in Hoofrifweg, net buite Johannesburg, betrap is. Hy het protesteer en aangevoer dat hy in ‘n bondel voertuie was wat almal dieselfde spoed gery het en dat hulle hom aangekeer het bloot omdat hy ‘n helder geel Peugeot gery het. Dít het helaas geen simpatie ontlok nie en hulle skryf hom toe sommer, en vir ‘n R40 boete nogal. Hy bring skamerig die spoeddagvaarding te voorskyn en oorhandig dit aan my. Groot rooi letters metvele ernstige waarskuwings: inderdaad ‘n boete van R40 vir té vining gery in ‘n 60kpu spoed sone. Al die besonderhede is korrek ingevul en daar word gesê hy kan óf die boete betaal óf sy saak kom verdedig op ‘n gegewe hofdatum. Loekie voeg ietwat swaarmoedig by dat dit nou nie eintlik gaan om die R40 nie maar om ‘n beginsel: hy het nie te vining gery nie – buig of bars.

Dis toe nou net hier wat my voortvarendheid as jong advokaat oorneem. Ek stem hartgrondig, volmondig en van ganser harte saam met Loekie en herhaal, in ietwat meer verhewe regstaal, dat ek nie sal toelaat dat so ‘n onreg ongemerk in die niet verdwyn nie. Ek voeg toe ook dadelik die daad by die woord en bied aan om hom gratis te verdedig in die hof. Loekie se oë helder op met daai ondeunde kyk en ek kan sien dat dat hy eintlik verheug is oor my aanbod. Soos dit ‘n advokaat wat ‘n opdrag ontvang het dan ook betaam, vra ek gou ‘n paar vrae, soos Waarmee is jy gevang? Sy antwoord, dat hy deur twee vekeersbeamptes, elkeen met ‘n stophorlosie in die hand aan weerskante van ’n afgemete stuk pad gevang is, laat my skalks glimlag en oortuigend verseker ek hom dààr en dàn: Maar dan kan ons net nie verloor nie! Ons ry die dag hof toe in Johannesburg in die helder geel Peugeot. Loekie is deftig aangetrek in ‘n donker pak klere met ‘n helderkleurige das. Hy het ‘n diep gegronde respek vir die hof gehad veral omdat hy na-ure polisie reservis dienste verrig het. Ons meld aan by die Staatsaanklaer maar hy deel ons mee dat die hofrol oorvol gelaai is met verkeersake vir dié dag en dat daar nie nog tyd gaan wees vir ‘n verdedigde saak nie. Dus word die saak uitgestel. Ek en Loekie skuif aan by ‘n linoleum-blad tafel met staal stoele in die hof kantien en daar is net Frisco poeier koffie op die spyskaart. Ons gesels gemoedelik oor alles en nog wat. Loekie was alombekend in die omgewing en só ontmoet hy dan ook in die verbygaan twee of drie van sy kenisse, almal polisiemanne.

Twee uitstelle verder beland ons uiteindelik in die verhoorhof. Die voorsittende Landdros moes al afgetree het en hy is boonop half hardhorend. Hy het ooglopend geen tyd vir ‘n skuldige man wat sy tyd kom mors met ‘n slim advokaat wat allerhande vrae vra en punte neem nie. Die twee verkeersmanne wat die stophorlosies gedra het, getuig. Hulle ken hulle storie want dis ál wat hulle elke dag doen, jaar in jaar uit. My kruisondervraging bring absoluut niks na vore nie behalwe miskien ‘n hoogs verveelde uitdrukking op die landdros se gesig, wat waarskynlik sy pensioen vooruitsigte in sy gedagtes vertroetel het. Loekie getuig en probeer naarstiglik almal oortuig van die helder-geel-Peugeot storie maar niemand byt daaraan nie. Té vining is ten ene male té vining. My betoog is beperk tot net één tegniese punt: die Staat, só probeer ek die landdros oortuig, het versuim om deskundige getuienis voor te lê dat die twee stophorlosies getoets was en daarom behoorlik gewerk het. Ek oortuig myself amper, want sien, enkele sekondes uit kan ‘n geweldige groot verskil in die finale spoed berekenings maak. Soos te wagte, was die Landdros, wat op ‘n totaal ander golflengte ingestel was, nie die minste beindruk met ons verdediging nie en, sonder omhaal van woorde, vind hy Loekie daar en dan Skuldig soos aangekla. Sy straf vir sy onhebbelike oortreding: R40 boete of 20 dae gevangenisstraf. Ons hardloop omtrent die trappe af na die Klerk van die Hof se kantoor en betaal gretig die boete want ek wou nie graag my vernedering verseël met ou Loekie vir 20 of wat dae en nagte in die tronk nie. Oor ‘n koppie Frisco poeier koffie in die hof kantien betreur ons die onreg wat sopas gepleeg is, maar praat ons mekaar moed in oor dié onverdiende nederlaag. Loekie vind dit alles heel vermaaklik en skryf dit gemoedelik af aan ‘n goeie ondervinding. Nie só ek nie.

Ek was woedend en probeer Loekie oortuig om te appélleer teen die uitspraak. Daarvan wou hy net mooi niks weet nie. Ek dring daarop aan en toe ek my versoek gelyk stel aan my gratis verdediging verkrummel sy teenstand en hy gee in. Ek teken appél aan na die Hooggeregshof in Pretoria. Dokumente opstel en laat aflewer deur bemiddeling van ‘n prokureursvriend op die basis ek sal weer vir jou eendag ‘n klip uit die pad rol. Ná sowat ‘n jaar wag word die appél op die rol geplaas vir verhoor.

Ek stel hoofde van argument op en ry spesiaal Pretoria toe om dit af te lewer by die hof. Intussen het my praktyk aanbeweeg en my dagboek is aansienlik voller. Ek begin twyfel aan my heldhaftigheid en die R40 raak toe al hoe meer ‘n onbenullige bedraggie geld. Die dag van die verhoor ry ek en Loekie, vroeg die oggend, in sy helder geel Peugeot, Pretoria toe. Hy is deftiger as ooit geklee in sy ouderling pak klere. Hy is opmerklik stiller as gewoonlik en daar heers ‘n byna gewyde atmosfeer. Ek dink nog steeds hy het ‘n vrees gekoester dat hulle hom dalk nog kon weg sit vir daardie 20 dae. Geen streke of grappies nie: dit is ten slotte die Hooggeregshof, nogal in Pretoria, waar Regters op ons wag.

In my lang swart toga en wit beffie volstaan ek dié keer met slegs één argument: die ongetoetsde stophorlosies. Die twee Regters wat voorsit lyk of hulle my simpatiek gesind is en ek besluit heimlik dat ek tog eintlik my beroep eer aandoen. Die uitspraak volg: die bevinding is dat daar eintlik ‘n misverstand tussen my en die Landdros tydens die verhoor ontstaan het rakende óf die behoorlike werking van die stophorlosies in geskil geplaas was al dan nie, en hulle verwys sowaar die saak terug na die Landdros, vir die aanhoor van deskundige getuienis oor die toetsing van die stophorlosies.

Ek en Loekie drink dié keer masjien koffie in ‘n klein restaurantjie op die grondvloer van die Boland Bank gebou, naby die hof. Ons skud ons hoofde in vertwyfeling en wonder waarom hulle nie maar liewer die appél van die hand gewys het nie sodat ons kon aangaan met onse lewe? Maande daarna kry Loekie kennis van die Johannesburg landdroshof af dat hy weer moet kom verskyn. My dagboek het byna geen opening meer nie. By die hof aangekom word ons meegedeel dat die verhoorlanddros intussen afgetree het en nie meer beskikbaar is nie. Ek stap na die kantoor van die Senior Staatsaanklaer, wat ‘n vriend van my was, en vertel hom die hele sage. Ek vra smeek amper dat hulle die R40 hou en dat ons tog net van die ding wil vergeet. Hy kyk my met sulke groot, verdwaasde oë aan en vra hoe ek durf waag om so iets voor te stel: ‘n bevel is deur twee Regters gemaak en dit moet ten alle koste gehoorsaam word. Druipstert is ek daar uit. Die saak word terugverwys na die Regters vir ‘n aanwysing wat gedoen moes word aangesien die verhoorlanddros nie opgespoor kon word nie. Maande later word Loekie in kennis gestel dat die Regters gelas het dat die saak van voor af aan deur ‘n ander landdros verhoor moet word.

Uiteindelik is die saak weer op die rol in Johannesburg. Ek en Loekie ry met die helder geel Peugeot hof toe. Ons praat glad nie oor die saak nie. Die nuwe Landdros was goed bekend aan my want ons het vroeër saam aangekla. Ewe gemoedelik vertel ek hom buite die hof my lang storie, met kleur en geur. En, sluit ek tevrede af: vandag is dit finaal, my kliënt gaan rustig net skuldig pleit, die boete is reeds betaal en sie daar geen tyd gemors nie. Klaar en gedaan. Die landdros kyk my vedwaas aan en sê onthuts Dit sal ek nie toelaat nie, julle het nou al só lang pad gestap om sy onskuld te bewys dat julle nie nou sommer kan tou opgooi nie. Berge verswelg my en heuwels bedek my: hier gaan ons.

Ek kom ooreen met die Staatsaanklaer om slegs een getuie, dié een wat die stophorlosies getoets het, te roep om te kom getuig. Hy stem in. Die getuie getuig oor een of ander groot masjien waarin die stophorlosies, voor die hou van elke spoedlokval, gedruk word en ‘n lesing word dan geregistreer wat kwansuis aandui of hulle behoorlik gekalibreer is. Hy handig nogal die kalibreerkaarte van die twee stophorlosies in, en daar is die onomstootlike bewys voor die hof.

Ek besef vandag is nie my dag nie. Ek verrys stadig, maar hopelik darem statig, uit my stoel om die getuie te kruisondervra. Ek voel eienaardig klein en boonop dom. Waar ek daaraan gekom het weet ek tot vandag toe nóg nie, maar ek vra hom dié een enkele vraag: Meneer, die masjien waarin u die stophorlosies gedruk het vir kalibrering, was dit enigsins getoets? Sy onwrikbare kort antwoord volg: Nee. Ek gaan sit triomfanklik. Genadiglik laat ek Loekie nie toe om sy helder-geel-Peugeot storie in die getuiebank te herhaal nie. Een argument, minder as één minuut lank: die stophorlosies is steeds nie behoorlik getoets nie. Die uitspraak, ook minder as één enkele minuut: Die verdediging moet gelyk gegee word en die beskuldigde word onskuldig bevind en ontslaan. Ek het ‘n vaste besluit geneem om my nooit, ooit oor die meriete van dié uitspraak uit te spreek nie.

Die Frisco poeier koffie in die hof kantien het vir die eerste keer ooit (en die laaste keer) voortreflik gesmaak. Beide ek en Loekie het ‘n tweede koppie weggeslaan. Ons bereken dat byna vier jaar verstryk het vandat hy onskuldiglik vasgetrek is. Twee weke later moes Loekie die laaste keer hof toe, dié keer om sy R40 terugbetaling by wyse van ‘n skatkisorder (eintlik maar ‘n soort van ‘n tjek) te gaan afhaal. Daardie naweek het ons die Saterdagaand ‘n fees der feeste gevier, in ‘n spog restaurant in Johannesburg. Die rekening van nie veel méér as R40 nie, is met ‘n glimlag en ‘n ondeunde knipoog, deur Loekie vereffen….

Loekie, my ou maat, ek groet jou!

Dankie vir wat en wie jy was.

Ek sal jou nooit, ooit vergeet nie!

Die advokaat van toentertyd

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button