Yolandi Grundlingh, 11, se stokperdjie laat baie van haar seunsmaatjies kopkrap.
Die leerling aan die Laerskool Roodekrans neem deel aan ovaalrenne (oval track racing) en alhowel sy eers in Februarie begin het is sy klaar verslaaf aan die gevaarlike sport. Vra haar hoekom en haar antwoord is eenvoudig — dit is lekker en sy is nie bang nie, sê sy.
Saam met ‘n vriend, die 15-jarige Arnoix Pienaar en hul ouers, behoort die twee aan die Mahem Racewayklub in Pretoria. Die deelnemers aan haar klas, die Ninja Midgets, se ouderdomme wissel van so jonk as vier tot 12 jaar. Die 60cc motortjie wat sy ry lyk soos ‘n knortjor op steroide en behaal ‘n top spoed van ongeveer 70km/h.
Haar pa Johan sê die sport se kapitaaluitleg is redelik hoog, met ‘n stel bande wat R2500 kos en vier keer ‘n jaar vervang moet word, maar as jy eers aan die gang is raak dit bekostigbaar. Hy sê ook dat soos met enige motorsport daar gevare verbonde aan is maar dat veiligheid vir hulle van kardinale belang is.
“Die renjaers is verplig om vuurbestande oorpakke en veiligheidstewels te dra asook ‘n Motorsport Suid Afrika (MSA) goedgekeurde valhelm en ‘n nekstut,” sê Johan. Hy voeg by dat daar omtrent met elke ren ‘n ongeluk is.
Johan wat uit ‘n motorsportmal familie kom, wys daarop dat die belangstelling in motorsport in Suid Afrika aan die kwyn is maar die kinders wat nou deelneem ‘n oplewing meebring.
Op die vraag of haar ma, Sonja, dit goedkeur lag Johan en sê dat sy en Arnoix se ma die grootste ondersteuners is en die hardste langs die baan skreeu.
“Ek sorg vir die motors in die kuipe en sy hanteer die koskuipe,” spot hy.
“Hierdie is beslis ‘n familie sport en is ‘n baie spesiale tyd vir my en ons dogter. Dit gee ons kans om ‘n band te smee want sy help my met alles voor en na die ren,” sluit hy af.
Want to receive news alerts via WhatsApp? Send us an SMS/ WhatsApp message with your name and cellphone number to 079 414 6709.
Familiarise yourself with our WhatsApp service disclaimer.
Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at roodepoortrecord@caxton.co.za (remember to include your contact details) or phone us on 011 955 1130.
For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites Randfontein Herald, Krugersdorp News and Get It Joburg West Magazine
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!



