Nog ‘n motor vir Roodepoort-kindersorg
Kindersorg Suid-Afrika Roodepoort het motors nodig om kinders te beveilig en hofsake af te handel, sê McAdam.
Kindersorg Suid-Afrika Roodepoorttak is ‘n tweede geborgde motor ryker danksy Vega Instruments South Africa.
Die Honda Brio Trend wat verlede week aan voorsitter Angelique McAdam en haar personeel oorhandig is, lyk net soos die ander Honda wat Vega ‘n jaar gelede aan hulle oorhandig het. McAdam het laasjaar ‘n versoek aan besturende direkteur John Groom gerig om moontlik ‘n nuwe naambord vir die organisasie te borg. Hy en sy vrou Chantal het geweet hulle wil ‘n groter verskil maak ooreenkomstig die Duitse maatskappy se motto, Auf lange Sicht wat op ‘n visie vir die toekoms dui.
“Met hierdie motor erken ons en sê ons dankie vir julle deursettingsvermoë en harde werk wat julle verrig sonder om besondere vergoeding daarvoor te ontvang,” het John by die oorhandiging gesê.
“Ek hoop dat dié motor soos die ander een dit vir julle sal moontlik maak om kinders te help – selfs al maak dit net ‘n verskil aan één kind,” het hy gesê. “Ons is gelukkig om ‘n tweede motor vir julle te kan borg.”
“Dit is hoe ons mense kan help – so kan ons altyd vorentoe kyk.”
Saam met die Grooms het Frikkie Steicher (verkoopsbestuurder) en Yusuf Kader (finansies) die oorhandiging bygewoon.
McAdam het hul lof besing en haar dankbaarheid uitgespreek.
“Hier veg ons soms oor die karre, ons is so ernstig oor ons kinders; met ons voertuie neem ons kinders uit hul gevaarlike omstandighede en kry hulle by plekke van veiligheid,” het sy gesê.
“Ons het ook voertuie nodig om dokumentasie by die Roodepoortse Landdroshof af te handel.”
Honda Wes-Rand sal sorg dat die motor gediens word en ‘n vol tenk petrol het vir die volgende jaar.
Kontak Angelique McAdam by 083 325 1013 or angeliquemcadam@gmail.com.



