Van paddas tot prinsesse
Wanneer mens die lang pad aandurf na ‘n ander provinsie, dwaal jou gedagtes dikwels na die afgelope week se gebeure, en natuurlik ook na dit wat nog gedoen moet word in die week wat voorlê. Die nuus op die radio klink redelik verdoemend, maar sodra jy jou eindbestemming bereik is alles vergete en jy spandeer …

Wanneer mens die lang pad aandurf na ‘n ander provinsie, dwaal jou gedagtes dikwels na die afgelope week se gebeure, en natuurlik ook na dit wat nog gedoen moet word in die week wat voorlê.
Die nuus op die radio klink redelik verdoemend, maar sodra jy jou eindbestemming bereik is alles vergete en jy spandeer ‘n rustige naweek saam met jou geliefdes, net om weer die verdoemende nuus te hoor op pad terug Wes-Rand toe. Dit is ‘n opsomming van my naweek. Een van die hoogtepunte op die nuus is die Oscar Pretorius-saak en al die bespiegelinge of hy tronk toe gaan en of hy (redelik) skotvry daarvan gaan afkom. Ek wil nie ook bespiegel nie, maar ek sal bitter bly wees as die saak nou afgehandel kan word sodat ons lewens weer na normaal kan terugkeer.
Die hoogtepunte in die Roodepoort record is vir my, en natuurlik ook ons lesers, van meer belang. Altans, ek hoop so. Die koerant is dié week gelaai met nuus uit ons eie kontrei – van die bordeel in Discovery wat sy deure reeds in Februarie gesluit het, maar ‘besoekers’ frustreer die nuwe eienaars grensloos aangesien hulle die huis steeds besoek in die hoop om ‘bedien’ te word, tot die verskeie matriekafskeide wat die afgelope week gehou is en sport.
Na vyf jaar het daar baie veranderings by die koerant ingetree. Waar joernaliste voorheen baie suinig was om hul nuus met die gemeenskap te deel voor dit in die koerant verskyn, is dit nou ‘n prioriteit aangesien die webblad daagliks met vars nuus opdateer word. Nuus uit die omgewing is nou onmiddelik beskikbaar.
Wat my egter opval is die min interaksie wat ons op ons webverf (www.roodepoortrecord.co.za) van ons lesers kry. My vraag is dus: Is daar alternatiewe nuus wat julle eerder sou wou lees? Het julle genoeg gehad van misdaad, korrupsie en bedrog? Of verkies julle om op hoogte gehou te word van die gebeure in die gemeenskap?
Ek sal graag van julle wil hoor. Epos my by roelienv@caxton.co.za of roodepoortrecord@caxton.co.za, daar is natuurlik ook twitter @Rdptrecord en facebook. Lewer kommentaar, stuur foto’s of skryf briewe oor die verskeie artikels in die koerant.
Intussen, geniet die koerant en die webblad en mag julle almal ‘n geseënde week en naweek geniet.



