Local newsNews

Gemeenskap sê skoolbestuur moet waai

Ouers sluit skool en weier hoof toegang.

‘n Groep gemeenskapslede het Maandagoggend 13 Oktober die hekke by Roodepoort Primary gesluit en geweier dat personeel of leerlinge toegang kry totdat daar aan hulle eise gehoor gegee is.

Volgens twee verteenwoordigers van ‘n informele tussentydse komitee wat beweerde probleme in die skool se bestuur wil laat ondersoek, Theo van Rensburg en Brandon Rossouw, het die groep geëis dat die Lid van die Uitvoerende Raad (LUR) vir Onderwys, Panyaza Lesufi hulle te woord staan. Lefusi was binne twee uur by die skool om hulle griewe aan te hoor en het terstond ‘n prokureursfirma aangestel om ‘n forensiese oudit van die skool te doen.

Daar is sterk bewerings in die gemeenskap dat daar korrupsie by die skool plaasvind. Van Rensburg sê egter dat terwyl dit nog bloot bewerings is, sal hulle liewers fokus op die gemeenskap se eise as om by ongegronde moddergooiery betrokke te raak.

Die komitee het die volgende eise aan Lesufi gestel:

• Die toewys van poste moet bekyk word

• Aangesien die aanstelling van die hoof en onlangs twee adjunkhoofde onregverdig was, moet hulle uit hulle poste verwyder word

• Die posvulproses moet oorgedoen en hersien word

• Onderwysers wat tans by die skool in diens is moet ‘n regverdige kans gegun word om vir die poste aansoek te doen

• ‘n Tydelike hoof moet uit die gemeenskap aangestel word terwyl gewag word dat die ander drie poste weer gevul word

Hulle grootste bekommernis is dat Afrikaans onder dié hoofde in die skool aan die agterspeen suig terwyl Davidsonville ‘n hoofsaaklik Afrikaanssprekende gemeenskap is.

Van Rensburg het ook namens die gemeenskap hulle opregte dank teenoor Lesufi uitgespreek vir sy flink en doelgerigte optrede.

Die skool was wel sedert Dinsdag weer oop maar die gemeenskap hou die hoofde se kantore agter slot en grendel om moontlike bewyse van onreëlmatighede veilig te hou.

Die bestuursliggaam is ook in die groep se spervuur. Leatitia Stuurman van die bestuursliggaam het aangetoon dat hulle hul kant van die saak wil stel maar dat sy tans nie beskikbaar is vir kommentaar nie.

Daar word ook op kommentaar van die Departement van Onderwys gewag aangesien die skool nie direk met die media mag kommunikeer nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button