Moenie die Paardekraal-fees mis nie
Die fees by Paardekraal Monument word gehou om die 25ste bestaansjaar van die Verkennerbeweging van Suid-Afrika te vier.
Moenie hierdie jaar se Verkennersfees by Paardekraal Monument misloop nie.
So sê Sid Mann, vise-president van die Verkennersbeweging van Suid-Afrika wat hulself inspan om die Afrikaner geskiedenis en volkseie kultuur te behou en te onthou.
Van Donderdag 9 tot Sondag 12 Oktober sal die Paardekraal Verkennerstak hul 25ste verjaarsdag vier met verrigtinge by die Paardekraal Monument in Krugersdorp.
Nie net sal hul verjaarsdag gevier word nie, maar ook die aankoms en vestiging van ‘Oom’ Paul Kruger se koets by die Monument. Terselfdertyd sal hulle die 100 jaar herdenking van die Rebellie van 1914 gedenk.
Op Donderdag 9 Oktober word Oom Paul se presidentiële serp gedra en die Stem gesing waarna die laaste boodskap van ‘Oom’ Paul uitgelees sal word. Vanaf Vrydag 10 Oktober sal kampeerders arriveer wat die res van die verrigtinge sal meemaak.
“Rebellie-vlae sal van regoor Suid-Afrika by die Paardekraal Monument oor die naweek arriveer,” sê Mann.
Op Saterdag 11 Oktober sal daar ‘n tydrenkompetisie aangebied word waar deelnemers van besigheid tot besigheid sal snel om antwoorde op ‘n lys vrae wat aan hulle gegee is te kry.
Hierna sal Oom Paul se koets arriveer, kompleet met perde wat hom lei en ‘n voertuigkonvooi.
“Die koets sal die middag om 2.30nm op sy geregtelike plek in die Monument gevestig en ingehuldig word.
“Enigeen is welkom om die fees saam met ons te geniet en hul geskiedenis te herontdek.”
Gedurende die naweek is daar ook verskeie braaigeleenthede en gesellighede.
Vir meer inligting kontak Sid Mann by 083 227 3260.



