Wilro-kleuters vier hul erfenis
Erfenis- en Braaidag al vroeg-vroeg by dié kleuterskool gevier.
Die kleuters van Wilro Park Kleuterskool het hul erfenis al op 23 September begin vier.
Of dit nou in tradisionele Zulu-, Sotho- of Chinese drag was, die kleuters het dit gedoen. Party het selfs as cowboys en plaasboere opgedaag. ‘n Paar het grappendergewys “tradisionele” Afrikaanse drag in die vorm van ‘n Springboktrui en ‘n braaivoorskoot gedra. Die kleintjies het ook mekaar se kulture gevier en oor en weer aangetrek, vertel hoof Marie Grobler, wat sélf ‘n voortrekkeruitrusting aangehad het.
“Ag, ons wou die dag spesiaal maak vir hulle en het sommer erfenis en braai en alles saamgegooi.
“Briefies is aan die ouers uitgedeel om te vra dat die kleuters moet aantrek vir vandag en dit is op ons swartbord geskryf – maar sulke entoesiasme omtrent die uitrustings het ek nie verwag nie!”
Party het sover gegaan om hul uitrustings te verryk met tuisgemaakte wapens en spiese, soos Rayden Pickering gedoen het.
“Terwyl die kinders buite speel word daar vir hulle wors buite gebraai en vanmiddag sal hulle ook bederf word met koeksisters.
“Kinders doen mos niks halfpad nie.”
Erfenisdag en alombekende Braaidag is amptelik op Woensdag 24 September gevier.



